Dink reg oor God, en praat reg met God. Lees weer hierdie vorige sin.
Dink reg oor God, en praat reg met God. Dit is regtig belangrik.

Een van die wonderlikste dinge, wat ons verhouding as kinders van God
met God beklemtoon, lees ons in Romeine 8:15: “Die Gees wat aan julle
gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe
nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak
en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” Jesus het in
Markus 14:36 God sy Vader aangespreek as “Abba, Vader...” In sy
krisis-oomblik is God sy Vader naby aan Hom in Getsemane!
Dan is Hy juis Abba!

Nou, in Romeine 8:15, deel Paulus die Gees se aanspreekvorm vir God,
wat hier diep uit ons harte opkom. Hy skryf dat die Gees so naby aan
ons is dat die Gees Hom nie elke keer op sy ander name waarvolgens
Hy bekend is aanspreek nie. Daar bestaan nou ‘n spesiale liefdesterm
waarmee die Gees Hom namens ons aanspreek! Hierdie term is Abba!

Die Heilige Gees maak dit nou moontlik dat ons op ‘n intieme wyse met
God self kan en mag praat. Die Gees roep in ons harte uit dat God Abba is!
So deel Paulus dit aan ons mee in Romeine 8:15, en in Galasiërs 4:6:
“En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte
gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!”

Hierdie term waarmee die Gees tot God bid, is ‘n Aramese woord
waarmee kinders graag hulle Vaders aangespreek het. Dit is ook die
woord waarmee dissipels dikwels na hulle leermeesters verwys het.
Onderdane het ook so na hul koning verwys. Abba druk tegelykertyd
respek en intimiteit uit. Let op: Foutiewelik vertaal baie mense dit vandag
as “pappa”. Dit is nie die korrekte vertaling nie. Dat dit foutief is blyk veral
ook uit die feit dat Paulus “Abba” telkens met Vader vertaal, en nooit met
die bestaande Griekse woord “pappa” nie. Abba sou ook vertaal kon word
met die woorde “liefdevolle Vader”.

Hierdie woord druk in een en dieselfde asem ons heilige respek vir God uit.
Maar dit druk ook ons bewussyn uit dat Hy baie naby aan ons is. Die Here
God is ons Vader-God. Hy is die enigste een wat alle mag in die hemel en
op aarde het! In die hele heelal! Maar Hy is ook die Vader wat Hom tekens
oor ons ontferm om ons hare op ons koppe te tel! Inderdaad ons Vader!

Ernest