Andrew Murray het oor nederigheid gesê,
dat dit is om meer met God gemoeid te wees, en minder met jouself!

‘n Nederige hart weét:
Ek dink nie meér van myself as iets goeds met my gebeur nie.
Ek is dankbaar daarvoor, en ek verstaan dat ek niks daarvan verdien nie.

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid gaan nie daaroor om krities na myself te kyk nie, maar realisties.
Ek het blindekolle, en ek werk saam met die Heilige Gees daaraan.
Ek moet nog baie groei in die Gees!

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid beteken ook om dinge in die geheim, of agter die skerms te doen.
Die een hand weet nie wat die ander hand doen nie.
Die hande hang dit ook nie aan die groot klok nie.
Dit is eenvoudig ‘n avontuur saam met God!
En ek is dankbaar om dit saam met Hom te kan doen!

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid verbly hom daarin dat God die eer kry as ek geprys word.
Dit is nie maar net ‘n eervolle vermelding van Hom nie.
Dit is ‘n dankbare hartsbegeerte dat Hy alleen verheerlik word.

‘n Nederige hart weet…
Wanneer iemand my minag of miskyk,word ek nie bitter nie.
Ek soek by die Here liefde en aanvaarding.

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid sal ander doelbewus en opreg prys.
Dit is lekker om te sien hoe die Here deur mense werk!

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid vergelyk hom nie heeltyd met ander nie.
Net die Here alleen sien die volle prentjie.

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid wys nie vinger na ander se swakhede nie.
Ek kan so verkeerd wees in wat ek sien.
Ek weet eintlik so min van die ander persoon.
Mag die Here alleen oordeel.
Hy sien alles van die ander, en van mý!

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid laat my besef my swakhede is deel van menswees.
Ek het net soveel swakhede soos ander.
Dit gee my genade met ander, en vir ander genade met my.

‘n Nederige hart weet…
Nederigheid maak my bereid om deur God verander te word.
Romeine 12:2 sê dat jy toelaat dat God jou verander,
deur jou denke te vernuwe.

Ernest