“Ek maak dit nie…” Ons hoor nie noodwendig hierdie sinnetjie van ander
mense nie, maar dit draai dikwels in ons gedagtes, rondom óns eie verhoudig
met God.
Tot vervelens toe beleef mense dat die Here teleurgesteld is met hulle.
Godsdienstige skuldgevoelens. Te veel gelowiges voel skuldig omdat hulle nie
voldoen aan ánder gelowiges se geestelike verwagtings van hulle nie. Hulle leef
nie die “standaard resepte” uit wat so dikwels deur ander gelowiges uitgedeel
word nie. Sus en so moet “regte Christene” leef. Godsdienstige clichés en stereotipes
raak bepalend oor hoe “groot gelowiges” behoort te leef. So gebeur dit dat gelowiges
nooit hulle eie unieke storie leef wat die Here met hulle wil skryf nie...
Hoe dikwels probeer ons nie leef soos mense van ons verwag nie,
in plaas van om net aan die voete van die Here te sit, by Hóm te leef!
Die belangrike is: Leef net jou gewone lewe voluit vir die Here! Leef dit sonder
skuldgevoelens van wat ánder van jou verwag. Moenie toelaat dat ander mense jou
geestelik manipuleer nie. Loop eenvoudig net vir Jesus agterna! Luister na Hom!
Vind uit hoe gewone verhoudings en onbelangrike dade net soveel tel in die koninkryk
van God as die “groot” dinge wat mense oorbeklemtoon. Gewone verhoudings en
onbelangrike dade vind op buitengewone maniere weerklank in die hemel en op aarde
wanneer dit eenvoudig net vir die Here gelééf word. Ons is gewone mense wat in die
alledaagse lewe geroep word om opreg op die eenvoudige roetes saam met Jesus te
loop, waar Hy loop!
Die lewe vir die Here gaan nie oor drie maklike stappe, of vyf geestelike wette, of tien
beproefde resepte vir suksesvolle Christenwees, of veertig dae van toewyding en vas nie.
Dit is die eenvoudige lewe... daar waar jy dit gewoon leef, waar die Here wil hê dat jy net
eenvoudig naby aan Hom moet leef. By sy voete moet gaan sit... sodat Hý die las van jou
skouers kan aflig, om jou te help, om net jou gewone lewe nou tot eer van Hom te leef.
Dink minder oor wat jy vir die Here moet doen, en sit net by sy voete,
en beleef sy wonderlike teenwoordigheid by jou...
soos ‘n “... Maria, wat aan die voete van die Here
gaan sit en na sy woorde geluister het...” – Lukas 10:39.
Ernest