Ons hoor so dikwels: “Jy moet iets vir die Here doen”.
Die belangrikste is egter om aan Jesus se voete tot rus te kom.
Ons dink dat geloof gaan oor aksies, programme, take om te doen.
Al die klem gaan naderhand oor alles wat gedoen moet word.
Nog erger... dit moet gróót gedoen word. “Groter is beter”... dink ons.
So dink gelowiges naderhand dat hulle net nie groot genoeg of goed
genoeg doen nie. Hulle beleef dat hulle “dit nie maak nie”.
Natuurlik is dit nie verkeerd om groot dinge vir die Here te doen nie.
Die belangrike is egter dat dit uiteindelik nie gaan oor wat “ék” vir die
Here doen nie, maar wat Hý van my vra! Die regte vraag is nie wat ék
wil en hoe groot ék wil nie, maar wat God wil. Wanneer ons dit snap,
besef ons dat dit meer gaan oor “kom” na die Here toe, as “gaan” vir
die Here. Dit gaan eerste en meer oor wie jy in die Here “is”, as wat jy
vir die Here “doen”. Die “is”, voor die “doen”.
Lukas 10:38-42 help regtig baie hierin. Dit is die gebeure van Jesus se
besoek aan huis van Marta en Maria. Daar lê ‘n groot stuk bevryding in
wat in hierdie verhaal gebeur. Hierdie verhaal vertel van “kom” eerder
as “gaan”. Dit gaan hier oor “rus” by die Here, eerder as “doen” vir die
Here. Dit gaan vir Jesus in hierdie gebeure oor ons nuwe identiteit in
Hom! Dit gaan oor ons wees by Hom en ons rus in Hom, voordat Hy
enige opdragte uitdeel. Dit gaan hier oor ‘n diep verhouding met Jesus.
Dit gaan nie hier oor al die groot dinge wat ons vir Hom moet doen nie.
Dit is die geleentheid om die Koning van die heelal in jou huis, in jou lewe
te ontvang! Dan moet jy alles los. Dan moet jy ten alle koste aan Jesus se
voete kom sit. Vra maar vir Maria daar in Lukas 10:38-42. Sy het geweet
hierdie is die kans in ‘n ewigheid. Sy het gegaan vir die plek aan Jesus se
voete!
Wees by Jesus en rus in Hom. Rus regtig in Hom, voordat jy wil uitgaan om
groot dinge “vir die Here te doen”. Dit gaan vir Jesus eerste oor jou identiteit
in Hom. Wie is jy in Hom? Regtig. Sit jy by sy voete voor jy gaan? Of gaan jy,
sonder om by sy voete te sit? Wees by Jesus, en rus in Hom.
Ernest