Lukas 10:41-42: “Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta,
jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig.
Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem
word nie.”
Marta met haar gejaagde hart en besige aktiwiteit, en Maria met haar
dringendheid... om aan die Here se voete te kom sit. Dit is die twee
susters se “toestand” in Jesus se teenwoordigheid.
Merkwaardig is dat Jesus Hom eerste ontferm oor besige Marta,
al is dit om haar tereg te wys. Sy is besiger as wat die Here wil hê sy
moet wees.
Ons moet dit besef. Ons kan te besig wees vir die Here, selfs met die
dinge van die Here. Die Here self is belangriker as die dinge. Jesus bied
vir Marta ‘n alternatief as geneesmiddel aan vir haar té besig wees vir
die Here. Jesus se siel-medikasie vir Marta is om haar eie suster se lewe
agterna te leef.

Maria het die keuse van ‘n ewigheid gemaak. Sy het daardie een ding gekies
wat nooit weer van haar weggevat sal word nie. En dit is om aan Jesus se
voete te kom sit. Sy vind rus by die Here. Sy het by Jesus tot stilstand en tot
vrede gekom. Mens dink onwillekeurig aan Jesus se uitnodiging in Matteus
11:28: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus
gee.” Net een ding is nodig... Net een buitengewone ding is nodig in
doodgewone mense se lewens. Maria se roete, haar keuse, is hierdie een
buitengewone ding. Dit gaan nie oor 7 stappe om jouself te verbeter nie,
of hoeveel wette ookal om beter te leef nie. Net een ding is nodig. Net een!
Kom na Jesus toe en sit aan sy voete. Met jou hele lewe by Hom!

Al is Marta en Maria se verhaal seker een van die bekendste in die Evangelies,
is dit waarskynlik ook een van die verhale wat die minste toegepas word in die
lewe van gelowiges. Ons wil eerder vir die Here dinge doen as om by die Here se
voete te wees. Dalk is dit ‘n ontvlugting van die intense teenwoordigheid van die
Here...? Ons soek eerder na formele stappe, of kits-tegnieke, of indrukwekkende
Programme, en informasie oor hoe om die Here te dien ten einde gelukkig te wees.
Ons dink dit kan net nie so eenvoudig wees soos die Maria roete nie. Daar moet
meer as dit wees. Daar is mense wat sê dat Maria se roete nie vir hulle “gewerk”
het nie. Wel, dit is waarskynlik die probleem. Haar roete het nie vir hulle “gewerk”
nie omdat dit nie net nog ‘n vinnige oplossing is om gou vir die Here dinge te doen
nie. Hoor weer: Maria se roete is die enigste roete! Jesus sê self in die bogenoemde
teks: “Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Die beste deel!... sê Jesus. Jesus se woorde eggo steeds deur die eeue, onveranderd:
Net een ding is nodig... dit is die beste deel... dit kan nie weggeneem word nie.
Kies dit! Leef by Jesus se voete.

Ernest