Elkeen van ons wil graag ‘n impak met ons lewens maak.
Ons wil hê ons lewens moet tel!
God se siening van ‘n lewe wat tel,
en die wêreld se siening van ‘n lewe wat tel,
is totaal uiteenlopend!

In Matteus lees ons van ‘n moeder,
wat in die ewigheid haar twee seuns langs Jesus wil laat sit.
Ook die dissipels stry met mekaar oor wie die ereplek langs Jesus sou kry.
Toe het Hy hulle bymekaar geroep en vir hulle gesê:
“Julle weet mos hoe dit in die wêreld gaan:
Politici en mense in magsposisies speel heeltyd baas oor al hul onderdane…
As een van julle in God se oë belangrik wil wees,
moet hy bereid wees om ander te dien.”

Nederigheid, gehoorsaamheid, en integriteit,
is kenmerke wat in God se oë merkwaardig is.
As ons wil tel, moet ons Hom en ander mense dien.
Jesus is weereens ons voorbeeld.
In Filippense 2:6 lees ons:
“Jesus staan in status op gelyke voet met God.
Hy was egter nie so vol van homself dat Hy tot elke prys,
aan die status wou vasklou nie…
Hy het ‘n mens tussen mense geword.”

‘n Merkwaardige mens kies om die Gees van God te gehoorsaam,
en God se wil te doen, eerder as om aan jou eie wil toe te gee.

God se koninkryk lyk so anders as die wêreld se waardes:
As jy meer wil hê, gee!
As jy eerste wil wees, staan laaste in die ry!
As jy in God se oë belangrik wil wees, dien!
So tel jy in God se koninkryk!

Ernest