Lukas 10:42: “... maar net een ding is nodig.
Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie
van haar weggeneem word nie.”

Ons is dikwels te besig vir die Here! Selfs met die dinge van
die Here! Die probleem is dat ons heeltyd letterlik wil sien wat
God doen. Daarom wil ons ook heeltyd net besig wees met doen.
Moet jou nie blind staar om heeltyd net letterlik te wil sien wat
God doen nie; dit is nie geloof nie. Maria gaan sit aan die voete
van Jesus. Sy kies die beste deel. Hoekom is dit die beste?
Wat maak haar roete en keuse so mooi?

Identiteit:
Maria snap Wie Jesus is. Sy ken sy ware identiteit. Sy weet die
geleentheid om aan Jesus se voete te sit is die kans van ‘n leeftyd.
Die grootste, magtigste en belangrikste in die heelal is op besoek
aan haar! Hy is die Woord wat mens geword het! Hy is die almagtige
en ewige Here. Maria wil bý Hom wees! Net om bý Hom te wees is
meer as genoeg. Dit is alles!

Dringendheid:
Niks, letterlik niks anders, is belangriker en maak meer saak as die
kans van ‘n leeftyd waar word, en die Here na jou toe kom nie.
Dan word gejaagdheid en om belangrike dinge te doen, selfs vir die
Here, in een oomblik vervang met die regte soort dringendheid:
Om by Hóm te wees!

Rus:
Daar is nie nóg werk, en take, en programme wat op Maria “wag” nie.
Haar geskenk uit die Here se hand is rus! Nooit sal dit van haar weggevat
word nie. Ewige rus. Vir te veel mense is dit moeilik en harde werk om
aan Jesus se voete te sit. Selfs gebed word ‘n taak-gedrewe aktiwiteit
wat afgehandel moet word, want daar is nog baie dinge om te doen.
Gebed word dan propvol versoeke. Stryde. Worsteling en aksies.
Gou-gou is ons moeg gebid. Ons spook ons moeg om God se aandag
te kry. Om Hom in te pas in ons program. Nee.
Die sleutel is rus in die Here, by die Here! Soos Dawid in Psalm 131.
Lees die kort Psalm! Om net by die Here te wees. Om rus en kalmte
en tevredenheid by Hom te vind. Stil en vol nederige afwagting...

Onbelangrikheid:
Jy hoef nie belangrik, beroemd, begaafd, of wat ookal te wees om
daardie een ding te vind wat in Jesus se oë nodig is nie. Kom net soos
jy is na Hom toe. Dit is aangrypend dat Maria geen groot rolspeler was
wat “baie” vir die Here “gedoen” het nie. Sy was nie ‘n bekende nie.
Sy was ‘n gewone persoon wat die beste gekies het. En oor haar keuse
maak Jesus een van die grootste uitsprake in die Woord.
Dit is aangrypend. Kies jy ook só?

Ernest