Leef dringend, nie gejaagd nie. Dit is die regte keuse om te maak.
Dit is wat Jesus bedoel het toe Hy vir Maria se suster, Marta, gesê het
dat Maria die beste deel gekies het. Om by Jesus se voete te sit is
belangriker as om gejaagd deur hierdie lewe soveel vir Hom te probeer
doen, dat jy nie meer tyd het vir Hom nie. Jy hardloop by Hom verby.
En die ironie is dat jy dink jy doen dit “vir Hom”.
Doodgewone mense wat buitengewone lewens leef, verstaan die verskil
tussen dringend en gejaagd. Maria kon nie anders as om aan Jesus se
voete te sit nie. Niks anders was vir haar meer belangrik nie. Nie eers om
vir Hom kos te maak nie. Sy wou Hom nie beïndruk met die dinge wat sy
vir Hom doen nie. Dit was eenvoudig vir haar dringend om aan sy voete
te sit. En Jesus sê sy het die beste deel gekies! Lees weer Lukas 10:41-42.
Dink na oor die volgende:
Gejaagde mense rus eers nadat hulle vir die Here gewerk het. Mense wat
dringendheid ervaar, dien die Here en hul medemens vanuit hul rus by die Here.
Gejaagde mense “werk” vir die Here. Mense wat gedring is, lééf vir die Here.
Gejaagde mense verstaan hulle lewe in terme van “take” wat vir die Here
afgehandel moet word. Mense wat gedring word deur die Here, word
gemotiveer vanuit die diep innerlike oortuiging van hulle liefde vir die Here.
Dankbaarheid dring hulle. Nie plig nie.
Gejaagde mense se werk is nooit klaar nie. Daar is altyd nog iets wat hulle jaag.
Nog ‘n besoek, nog ‘n vergadering... laste wat self gedra moet word, in plaas
van om mense te lei en te leer om hulle laste by die Here se voete te gaan neersit.
Terwyl hulle dien wys hulle vir ander mense dat die beste plek by die Here se voete is.
Gejaagde mense sit dikwels opgeskeep met skuldgevoelens omdat hulle nie by alles
uitkom wat hulle “vir die Here moet doen” nie. Wanneer ons onderskei wat regtig
dringend vir die Here is, leef ons met vryheid in Christus. Dan besef ons wie ons voor
Hom is. Ons probeer nie alles vir almal wees nie, maar woeker met die talente wat
die Here vir ons gegee het. Ons probeer nie almal tevrede stel nie. Ons vind ons
opregte vrede in die Here wat met ons tevrede is. Soos met Maria.
Gejaagde mense lê klem op beheer en kontrole, ten koste van verhoudings.
Wanneer die liefde van die Here ons dring, dan is ons integriteit, ons fokus en
hardwerkendheid nie net ‘n stuk pligsbesef nie. Dan dring die liefde van die Here
en ons liefde vir sý mense ons. Dit beteken nie dat ons sonder struktuur en planne
leef nie.
Doen eerste dinge eerste. Gaan sit eers aan die voete van die Here. Eers daarna
gaan dit oor doen. Doen is gesetel in wie jy voor die Here is. Om by sy voete tot
rus te kom. Oor en oor. Aanhoudend. Moenie met al jou “doen” dinge vir die Here,
by die Here verbyhardloop nie.
Kom... sit by Hom, dit is die beste deel om te kies, en sal nooit van jou weggeneem
word nie... sê Jesus.
Ernest