Ons voel die lewe eerder as wat ons dit verstaan.
Ons leef eerder uit ons harte as uit ons koppe. En tog,
ons versamel meer en meer kennis asof geloof bloot om kennis gaan.
Mense sê hulle “ken” die Bybel, maar ons sien nie vertroue en geloof in
ons lewe nie. Is dit nie dalk ook so met jou nie? Dink daaroor. Ons lees
die Bybel en onthou die kennis aspek daarvan, maar ons lééf dit nie.
Ons kennis sal nie ander mense oortuig van die waarheid nie. Ons moet
leef wat ons in die Bybel lees. Dit lyk of dit dalk die verskil is tussen ‘n
“kind van die Here” en ‘n “Christen”. Ons moet begin leef soos Jesus in
die wêreld geleef het, en die wêreld sien soos Jesus dit gesien het.

Kennis maak regtig saak. Maar as dit net kopkennis is, is dit blote inligting.
Slegs kennis wat met ons harte praat bring transformasie. Daarom moet ons
die Bybel-kennis gaan lééf. Ons harte bepaal ons lewe. Bybel kennis moet
nooit ‘n doel opsigself wees nie. Geloof is kennis én vertroue. Daarom is die
Bybel ‘n lees- en leef boek. In die Bybel openbaar God sy hart. Die Bybel is
die enigste boek waar die Outeur altyd persoonlik teenwoordig is as jy dit lees!
Die Woord word lewendig deur die Heilige Gees wat daardeur werk.

2 Korintiërs 3:2 sê ons is aanbevelingsbriewe. Daar is geskryf op ons harte.
Vir almal om te lees en te verstaan. Vers 3 sê: “Dit is tog duidelik dat julle
‘n brief van Christus is... geskrywe nie met ink nie maar met die Gees van
die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.” Die Heilige
Gees plaas die Woord binne in ons. Nie vir kennis alleen nie, maar vir lééf!
Hy vervang ons klipharte na harte wat lééf! Vir God leef! Paulus sê óns is
lewende briewe van Christus wat almal nou kan lees!

Ons is Jesus se rondreisende aardse briewe. Ons kan al die kennis hê,
maar as mense sonder kennis ons nie kan lees as kinders van God nie,
help ons kennis nie. Hierdie is ‘n merkwaardige waarheid wat jou lewe
omkeer as jy dit snap. Dit gaan nie oor hoeveel ons weet nie, maar vir Wie
ons lééf! Dit laat ons ophou om net kennis versamelaars alleen te wees.
Ons begin al hoe meer lééf wat ons reeds weet. Alles gaan oor die agterna-leef
van die mensgeworde Woord! Woord met ‘n hoofletter, Jesus! Ek moet skuif
vanaf ‘n kennis versamelaar na ‘n ervaarder en doener van die Woord.
Psalm 119 sê die Woord word soos heuning. Soet en smaaklik. Fees-kos.
Dit versprei lewensgeur. Dit keer lewens om en maak dit nuut!

Om die Woord te lees is nou per implikasie om dit te praat, en te doen, te leef,
vir die Here. Lees die Woord met die doel om dit te leef! En gaan lééf dit nou!

Ernest