Ons gewaarwordings, en gevoelens, en diep verlange na God is ‘n inherente
deel van menswees as kinders van die Here. Ons emosies vorm ons bewussyn.
Ons hoef nie eers te begin dink voordat ons bewus is van iets wat gebeur nie.
Dan kom ons denkende brein eers agterna om ons ervaring of emosies te verwerk.
In kort: ons is diep emosionele wesens. Ons voel diep, en onthou emosioneel.
Ons denke volg altyd kort op ons emosies se hakke. Daarom moet ons eers mooi
dink voor ons reageer. Blinde emosies moet nooit die oorhand in ons lewens kry nie.
Emosies moet nie ons lewe bestuur nie. Dit is waar wysheid inkom. Wysheid is om
te weet ons skuld ons emosies altyd ‘n goed deurdagte opinie.
Wysheid is om toe te laat dat die Here ons denke verander en vernuwe op die
spoor van Romeine 12:1-2: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond
van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige
offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle
moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat
God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei
wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Oordink hierdie teks weer en weer. Ons kan dit nie genoeg oordink nie.
Paulus sê “... dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”.
Dit is die wesentlike van jou verhouding met die Here. Ons moet met die wysheid
wat die Here ons gee voel... en dink... en doen. Ons is nié uitgelewer aan ons
emosies nie! Ons kan byvoorbeeld nie maar sê “ek het ‘n kort humeur en word
vinnig kwaad... julle moet my maar so aanvaar... dit is soos ek is nie.” Jy is nié
uitgelewer aan jou emosies nie! Dit is jou eie keuse hoe om te voel en te dink
en op te tree.
Wysheid is goeie denke en optrede aan die hand van bogenoemde teks.
Gee jouself aan God as lewende en heilige offer. Laat God jou verander!...
en jou denke vernuwe! Hy laat jou onderskei wat sy wil is. Moenie aan hierdie
sondige wêreld gelyk word en jou daaraan oorgee nie. Jy moet nooit oorgee nie!
Gee jouself aan God! Laat die wysheid wat Hy gee op jou emosies volg, en doen
dan wat sý wil is. Goeie denke onder leiding van die Heilige Gees sal dan in die
toekoms ongesonde en destruktiewe emosies of gevoelens keer.
Ons is deur die Here so geskep om altyd diep te voel en te ervaar. Maar Hy het
ons as geestelike mense ook só geskep om in Hom tot rus te kom. Hy het ons
ontwerp om sáám met Hom te leef én te voel. Daarom is ons sy verteenwoordigers,
al van die begin af – Genesis 1:27. Lees dit.
In Christus het God ons ook hérskep, om weer aan sy doel met ons te beantwoord.
Om as beeld van God Hom te verteenwoordig. Oral. Altyd. Nuwe gevoel en nuwe lewe
bruis in ons harte. Ons moet leer om diep te voel saam met God, en diep te dink saam
met God, met die wysheid wat Hy gee, en dan te praat met én sonder woorde deur ons
dade as sy verteenwoordigers!
Ernest