Ons sê dikwels dat ons smag na ‘n meer intieme verhouding
met die Here. Ons verlang na “’n dieper wandel met die Here”.
Ons “soek meer van God” in ons lewe. Ons sê “ek ervaar God nie
as ek bid nie”, of “ek beleef God nie in die erediens nie”.
Dan beproef ons ‘n verskeidenheid van dinge om ‘n “dieper lewe”
te waarborg. Saamtrekke. Kampe. Kursusse. Seminare. Retraites.

Ons moet ontdek dat God lankal hier is! Hy is nie eers hier as ék
Hom persoonlik beleef nie. Ek sien Jesus nie eers as ek dink ek “sien”
Hom nie. Hy ís eenvoudig reeds hier! Punt! Sy waarborg is dat Hy by
sy mense is al die dae tot aan die einde! – “...En onthou: Ek is by julle
al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” – Matteus 28:20.

Jesus sê ons moet dit onthou! Niks kan my skei van Hom nie. Die hele
Romeine 8:31-39 beklemtoon dit. Laat ons rede en ons denkende kop
dit vandag hoor en weet! En laat ons dit elke dag weet en daaruit leef!
Bewustelik! ‘n Diep wete van God se gewaarborgde nabyheid is die
geheim van die Christelike lewe! Filippense 4:5: “...Die Here is naby...”
Die wete dat ek in Hom is en aan Hom behoort , oorroep alle gevoelens
wat ek het, of juis dalk nie het nie, oor sy nabyheid.

Solank as wat ek my soeke na iets dieper in my verhouding met die Here
net aan my gevoelens of belewenisse vasmaak, gaan ek ‘n onstabiele
staan-en-val geloof hê. Gevoelens is nie ‘n maatband waarmee ek die
Here se afstand van my af meet nie. Let op: Ek hoef ook nie die afstand
te meet nie! Daar is geen afstand nie! Die Here is hier! Hoe meer ons
onsself in hierdie kennis oefen, hierdie waarheid van die Woord van God,
dat die Here hier is, hoe meer begin ek Christus inderdaad “sien” in die
geloof.

Nou en dan sal dieper ervarings inderdaad deurbreek. Maar die Here is
nie naby óf ver nie. Hy is altyd hier! Immanuel – God met ons.
Of ek dit voel of nie... God is hier. Altyd. Niks “... kan ons van die liefde
van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Ernest