“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God,
en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God.” – 1 Johannes 4:7.
“Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet,
bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.” 1 Joh. 4:12.
Liefde wen loshande as die emosie en daad wat God wil hê in ons moet lééf.
Ons is in die begin geskep, en in Christus herskep, om lief te hê!
“Agape”, die liefde waaroor die Nuwe Testament skryf, wat God vir ons het,
en wat ons vir mekaar moet hê, is egter nie net ‘n emosionele gevoel nie,
maar ‘n daad-liefde.
Liefde is ten diepste onvoorwaardelike lojaliteit aan God se wil.
Daarom word so ‘n liefde vanuit ons nuutgemaakte wil aangevuur!
Agape gebeur wanneer ons die Gees toelaat om God se wil bo-oor ons wil
en emosie te skryf. Dit is die liefde wat nie afhanklik is van die regte gevoelens
nie. Maar, dit lei altyd tot die regte gevoelens. Daarom dat ons selfs ons vyande
kan liefhê, selfs al koester ons aanvanklik geen goeie emosies oor hulle nie.
Ons noem hulle dan juis in die begin ons vyande en nie ons vriende nie...
Maar nou, deur die wil van God te wil doen, ten alle koste, kan ons hulle
liefhê as vrug van die Gees.
Agape word eers geleef en later gevoel. Ons doen eenvoudig wat God vra.
Sy wil lei, en nie my emosie nie. Die oorsprong en gerigtheid van die liefde is
God self. In Hom is ware liefde gesetel. Dit is met daardie liefde, wat Hy as
vrug van die Gees vir my gee, waarmee ek moet liefhê. Nie met my emosies
nie. God se liefde is mededeelsaam en opofferend. Ek moet ook so wees.
Jesus is die sigbare bewys van God, oor hoe ek moet leef en liefhê.
Mededeelsaam en opofferend. Jesus se aardse lewe van self-prysgawe,
lyding en dood, is agape liefde in lewende lywe.
Agape - liefde is ‘n diep hunkering na God. Dit is die nimmereindigende
begeerte na nog meer van die Here se lewe in ons. Gaan leef met God
se liefde, in jou, in hierdie wêreld in.
Want, “...as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons
sy doel volkome bereik.”
Ernest