Om diep te voel is om waarlik mens te wees. Maar dit gaan verder
ten opsigte van ons verhouding met die Here. Dit gaan ook daaroor
om rég te voel. Om rég te voel is om iemand na God se hart te wees.
Hoe voel ‘n mens reg? Jy voel reg deur die regte gevoelens te bedink
en jou hele lewe daarop te rig. Die gevoelens wat die Here is my lewe
verlang is juis ook sy vreugde en vrede.
Die gevoelens wat ek in my lewe vertroetel is uiteindelik die gevoelens
wat wen in my lewe. Hoe meer ek haat en bitterheid kos gee, hoe groter
groei haat en bitterheid in my. Later sien, en hoor, en beleef ek net haat
en bitterheid, negatiwiteit en woede. Dit waarop ek my gedagtes rig,
word uiteindelik deel van my lewe en menswees...
“No cosmetics here: Discipleship is the result of a fatal head-on collision
with Jesus. One’s old self dies while a new person is raised up.” – Anoniem.
Dit gaan dus oor gerigtheid! Daarom skryf Paulus in Filippense 4:8:
“Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is,
alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is –
watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet
julle julle gedagtes rig.” Let op: Daarop moet julle julle gedagtes rig!
Gerigtheid is baie belangrik om reg te voel en reg te begeer,
en reg te leef.
Jy moet jou lewe op Christus rig! Jy stel jou lewe in op Hom.
Dit is wat die Heilige Gees in jou wil doen as jy die Gees gehoorsaam.
Hoe? Jy leer die Here Jesus nuut ken in die Woord van God.
Die Heilige Gees werk deur die Woord van God. Lees die Woord.
Daarom sê Paulus in die volgende vers: “En wat julle van my geleer
en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God
wat vrede gee sal by julle wees.” – Fil. 4:9.
Lees die Woord van God.
Lees die Woord van God!
Rig jou gedagtes dan daarop, en voel en leef die Woord van God.
Ernest