Hoe meer ons in die Bybel lees wat vir Jesus saak maak,
hoe meer leer ken ons ook watter gevoelens óns moet kweek en
koester op voetspoor van Jesus. Ons is tog sy navolgers. Sy dissipels.
Sy volgelinge.
Hierdie is van die belangrikste gevoelens wat ons by Jesus vind en
waarin ons saam van harte saam met Hom kan voel en beleef:
Wees bly as verlore eiendom tuiskom!
Dit wat Jesus baie bly gemaak het, is wanneer sy Vader se verlore
aardse eiendom tuisgekom het. In Lukas 15 vertel Jesus drie gelykenisse
van verlore besittings van God wat weer teruggevind word. Die verlore
muntstuk, die verlore skaap, en die verlore seun. In al drie hierdie stories
volg uitbundige feesvierings wat losbreek wanneer die verlore eiendom
teruggevind word. Die engele sing en feesvreugde heers in die hemel.
In Lukas 10 breek Jesus uit in lofgebede as Hy hoor hoe sy dissipels die
koninkryk van God suksesvol bekendgemaak het. Maar sy grootste
vreugde is dat God self die geheime van die koninkryk aan hulle
geopenbaar het. Hyself het hulle name in die boek van die lewe
opgeskryf. Hieroor juig Jesus.
Vier fees saam met die Here se familie!
Wanneer Jesus by sy dissipels is, is dit altyd feestyd. Skaars het Levi
aangemeld as nuutste bekeerling, of Jesus eet saam met hom en sy
vriende in Lukas 5. Dieselfde gebeur met Saggeus in Lukas 19. Jesus
kuier en bly en doen die lewe saam. Hy loop ‘n ganse dag lank saam
met die Emmaus-gangers om brood met hulle te breek in Lukas 24,
en om sy identiteit aan hulle bekend te maak. Net hierna verskyn Hy
in Jerusalem aan sy dissipels met fees-kos op die tafel. Jesus kuier en
vier saam fees. Hy is nie haastig met mense nie. Dit is nie tref en trap
nie. Geen wonder nie dat ‘n feesmaal en ‘n bruilof die simbole is van
die nuwe wêreld van God.
Wees kwaad oor skynheiligheid!
Jesus se emosies het altyd opgevlam oor godsdienstige skynheiligheid.
Wanneer godsdienstiges dooie wette op mense se skouers gelaai het,
wette wat hulleself nie eers kon dra nie, was Jesus kwaad. In Matt. 23
was Hy baie kwaad oor sulke valsheid. Jesus was ook ontsteld wanneer
sy dissipels die evangelie nie gesnap het nie, soos die keer toe hulle die
ouers wou wegjaag wat hulle kindertjies na Hom toe gebring het om
hulle te seën.
Beleef medelye met minderbevoorregtes!
Jesus se medelye was altyd sigbaar teenoor armes, weduwees,
vreemdelinge en randfigure in die samelewing. Hulle wat eenkant toe
gestoot is. Hulle wat op neergesien is. Sy diep medelye met die skare
wat honger geword het terwyl hulle na Hom geluister het, het gemaak
dat Hy brood en vis vir hulle vermeerder het. In Lukas 14 moedig Jesus
ons aan om ons volgende fees te vier saam met die armes, kreupeles,
lammes en blindes. Dan hou ons nou reeds fees in die voorportaal van
die hemel. So ervaar ons emosies saam met Jesus.
Jesus se emosies dui op belangrike prioriteite in sy aardse sending.
Ons sien sy emosies wanneer Hy geldwisselaars uit die tempel jaag.
Wanneer Hy tuisgaan aan sondaars se huise. Wanneer Hy huil by
Lasarus se graf. Wanneer sy lof die hemel oopsluit voor verlorenes.
Ons moet as Jesus-volgelinge voltyds op hierdie roete wees saam
met Jesus. Ons moet ons lewens rig op dit waarop Jesus se hart gerig
was toe Hy op aarde was.
Dit moet ons gelukkig maak. Dit maak ons geseënd!
Ernest