Ons roeping en missie as kinders van die Here is om voltyds
op Jesus se roete te wees. Ons moet ons lewens rig op dit waarop
Jesus se hart gerig is. Ons diepste begeerte moet wees om saam
met Jesus en vir Hom te leef. Dit is nie die maklikste roete nie.
Verseker nie in hierdie wêreld nie. Maar dit is die mees geseënde
en gelukkige roete. Dit word treffend in die saligsprekinge uitgespel
deur Jesus self. Die Boodskap vertaal en beskryf dit so in Matteus 5:3-12:

“Gelukkig is almal wat van God se goedheid en sorg afhanklik is.
Hulle sal definitief ‘n plek kry in sy nuwe wêreld.
Gelukkig is almal wat hartseer is oor al die pyn en swaarkry in hierdie wêreld.
God self sal hulle trane afdroog.
Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie.
God sal sorg dat elke stukkie grond in sy nuwe wêreld aan hulle behoort.
Gelukkig is almal wat met alles in hulle daarna streef om te doen wat God vra.
Hy sal binnekort hulle verlange na Hom vir altyd wegvat.
Gelukkig is almal wat regtig vir ander mense omgee.
God sal binnekort vir hulle wys presies hoeveel Hy vir hulle omgee.
Gelukkig is almal wie se lewe van binne af nuut geword het.
God sal sorg dat hulle Hom met hulle eie oë sien.
Gelukkig is almal wat vrede maak tussen mense wat in vyandskap met
mekaar leef. God sal op die laaste dag voor almal sê dat hulle sy kinders is.
Gelukkig is almal wat deur ander mense beledig en vervolg word omdat hulle
doen wat God vra. Hy sal sorg dat daar vir hulle plek is in sy nuwe wêreld.
Gelukkig is julle wanneer ander mense julle te lyf gaan, julle slegsê en ‘n
klomp leuens oor julle vertel omdat julle my volgelinge is. Wanneer dit gebeur,
moet julle sommer baie bly wees. Spring op en dans rond van vreugde!
Want dan wag daar ‘n baie groot beloning op julle in die hemel.
Wanneer hierdie dinge met julle gebeur, moet julle nie moed opgee nie.
Onthou: God se boodskappers het nog altyd deurgeloop onder ander mense
se haat. Lank voor julle tyd is die profete al vervolg.”

Die saligsprekinge van Jesus bly een van die treffendste boodskappe van die
Woord van God, oor hoe ons moet leef en reageer in hierdie wêreld.
Geseënd en gelukkig is elkeen wat dit lééf... só sê Jesus!

Ernest