Kinders van die Here dink dikwels hulle “maak dit nie”.
Ons voel dikwels dat nie eers ons beste pogings op godsdienstige
terrein goed genoeg is nie. Ons dink die Here is nooit regtig tevrede
met ons nie. Dan voel ons dat ons nie onsself kan uitsorteer nie.
Maar hierdie is juis een van die belangrikste ontdekkings wat ons moet maak.
Ons kan nie onsself uitsorteer nie, en die kerk kan ons ook nie uitsorteer nie.
Dit is egter reg en goed dat ons nie in ons eie gemors wil voortleef nie. Maar
dit is iets anders as om heeltyd te dink jy “maak dit nie”. Daar is nie iets soos
tien maklike stappe of drie roetes wat ons moet volg om goed genoeg of
uitgesorteer te wees nie. Elkeen van ons is enig in sy soort. Daarom is daar
nie kliniese regruk resepte in die Woord van God nie. Jy kan nie jou verhouding
met die Here as ‘n bloudruk op iemand anders afforseer nie.
Neem nou maar gebed. Daar is ‘n boek met die instruksie: “Prayers that change
the world are prayed early in the morning.” Waar staan dit in die Bybel? Vir die
van ons wat worstel om vroegoggend te bid, selfs net eers wakker te word, is dit
‘n nagmerrie. Gou-gou is jou geestelike selfbeeld op ‘n laagtepunt. Jy dink jy moet
vroeg opstaan vir die Here. Ons kan nie ‘n “one size fits all” godsdiens vir almal
voorskryf nie. Dit is tog nie waar dat gebede wat vyfuur in die oggend gebid word
sterker is as die wat agtuur in die aand gebid word nie. Ons moet nie soos die
Fariseërs raak nie... nie eers oor onsself nie! Ons moet nie godsdienstige reëls
maak wat ons self nie eers kan nakom nie.
Dink maar net aan Romeine 8:26. Paulus skryf daar dat een van ons grootste
swakhede is dat ons nie eers altyd mooi weet wát om te bid nie! Beteken dit nou
jy maak dit nie? Wat ‘n ontdekking en wat ‘n troos ten opsigte van die gevoel dat
“ek dit nie maak nie”. Ons moet dit eenvoudig hoor: Ons hoef dit nie vir die Here
“te maak nie”. Paulus skryf juis Romeine 8 en beklemtoon die werk van die Heilige
Gees in ons. Die Gees bid in ons vir ons! Die Gees bid wanneer ons nie meer weet
wat om te bid nie. En wanneer ons uit asem uit hardloop in gebed, bly die Gees vir
ons intree. Die Gees ondervang swak mense soos ons in ons spartelende gebede.
So werk die Heilige Gees in ons deurlopende verhouding met die Here. God het
ons sy Gees gegee. God is inderdaad meer genadig met ons as wat ons met onsself
is wanneer ons sê “ons maak dit nie”. Ons moet nie ons verhouding met God baseer
op wat óns vir God kan doen nie, maar op wat Hy reeds in Christus deur die Gees
vir ons gedoen het, en steeds doen!
Die Heilige Gees bly werk wanneer ons “faal”. God is getrou en los ons nie.
Hy het ons lief. Hy het sy kinders lief ten spyte van wie en wat ons is, en wanneer
ons dink ons “maak dit nie”. God gee nooit op met sy kinders nie. Niks kan jou uit
God se hand ruk nie. Ons leef in die greep van God se genade.
Ernest