Ons raak maklik vasgevang in “godsdienstige vestings”.
Ons ontwikkel vooropgestelde idees dat God net sus en so werk.
Ons moet dan ontdek dat God anders is en baie meer is as ons
vooropgestelde idees oor Hom. Ons ontwikkel ons eie idees van
godsdiens wat ons haarfyn wil uitleef. Ons dink ons stel die Here
tevrede deur kerk toe te gaan, Bybelstudie te hou, meer te bid...
Dit alles is baie belangrik en is die wil van God. Maar dit is nie
bepalend of ek ‘n kind van God is of nie. Of ek “dit maak” nie.
God word nie onkant gevang as ek nie my eie idee van godsdiens
haarfyn uitleef nie. Of as ek nie langer kan voldoen aan ander
gelowiges se verwagting van my, en hoe ‘n “vroom godsdiens”
moet lyk nie.

God wil ons oë oopmaak om te sien dat Hy die God van verhoudings is.
Die belangrikste van alles is my verhouding met die Here en met ander
mense. Ek moet regtig weet dit gaan oor God bo alles lief te hê, en my
naaste soos myself. Punt. Ek word ‘n verteenwoordiger van die Here in
alle omstandighede. Net dit. Die Here verander mense. Nie ek nie.
Ons moet as’t ware uit die Here se pad staan by mense sodat Hý doen,
wat nét Hy kan doen. Ons is nie daar om ander mense uit te sorteer nie.
Ons moet hulle net dien en bedien met die liefde van die Here.
Ons moenie godsdiens-gerig of kerk-gerig wees nie.

Ons word ook godsdienstige vestings wanneer ons maar net saam praat
met wat almal sê. Al gooi ons net ‘n Christelike sousie daaroor. Ons moet
uitbreek uit hierdie tipe praatjies van ons dag waar ons net in een koor
saam sing, asof die Here nie ‘n lewende werklikheid is nie. Wanneer ons
maar net beaam wat almal sê oor ons donker toekoms, klink ons baie keer
maar net meer godsdienstig daaroor, sonder om as getuies vir die Here
op te tree.

‘n Godsdienstige vesting is ook dat die kerk oor my tiende beskik.
Wanneer mense om hulp vra sê ek maklik ek kan nie want “ek gee klaar
by die kerk”. Die uitdaging vir ‘n kind van die Here is veel groter. Die Here
vra elke dag alles! My tyd, energie, geld, my hele lewe, is nou in diens van
die Here! Ek is nie in ‘n vesting nie, maar leef in die oopte as verteenwoordiger
van die Here. Oral waar ek gaan kán ek gee, bemoedig, bid, dien...

God is nie in “vestings” vasgevang wat ons ewe vroom herdoop het as die
“huis van die Here” nie. God is die Almagtige. HY IS DIE HERE van hemel en aarde.
Hy is só groot en vry, en nie vasgevang in ons godsdienstige vestings nie,
dat Hy dit kan “hanteer” as ons anders doop, of nagmaal hou, of kerkgaan,
of getuig, of wat ookal... as die ander “vestings”.
Lééf eenvoudig in oorgawe... vir Hom! Oral. Altyd.

Ernest