Ons godsdiens kan maklik al hoe vromer raak met al hoe minder impak.
Die Here werk inderdaad dikwels anders as wat ons dink. Ons moet dalk
eerder sê “Hy is anders” as wat ons formules oor Hom wil sê.
Wanneer ons God en sy werk wil definieer en vasvang in ons godsdienstige
taal en verwagtings, verhoog dit moontlik ons uiterlike vroomheid, maar
dit verlaag ons impak vir God in hierdie wêreld. Ons lyk, en gedra, en klink
dan maar net vromer as ander mense. Ons wil nie sonde sien nie, hoor nie,
of daaroor praat nie. Maar verder in ons lewe maar dieselfde as die res.
Ons is gedurig besig om ander rondom ons te weeg en te meet.
Die goeie nuus is dat God dit nie doen nie! Hy meet ons aan die binnekant.
Hy kyk eerste na jou hart.

Natuurlik haat God sonde. Maar God is nie heeltyd op ons hakke om ons
“uit te sorteer” nie. Jesus in ons hart!... is ons Redding! Hy staan vierkantig
in sonde se pad. Jesus is alles en oorgenoeg! Hy is redding as ek slaap in die
tuin van Getsemane, sonder om te bid, as ek faal, of val, misluk, struikel, huil,
worstel, afdwaal of te min doen... Jesus is nie ‘n resep nie. Hy IS redding!
Nou al. In lewende lywe. Hy laat lewe in jou gebeur! Hy is die lewende Heer
wat jou kliphart uitkap en aan jou ‘n hart van vleis gee. Hy maak jou ‘n nuwe
mens. Ons is nie hartelose godsdienstige masjiene wat slaafs op God se
instruksies reageer nie. Jesus maak ons nuwe mense! Dan volg ons Jesus
daagliks vanuit ‘n vars verhouding op opwindende en uitdagende nuwe paaie.

William Temple, ‘n geestelike leier, het opgemerk:
“When I pray, coincidences happen; when I don’t, they don’t.”
Dit gebeur al hoe meer dat jy spontaan in God se teenwoordigheid lewe,
as gevolg van deurlopende spontane gesprekke met God. Hy is heilig en ek
is nietig, maar Hy is nogtans my Vader wat naby is! Ek lééf saam met Hom,
met Jesus diep in my hart. Tussen lyne en in die mees onverwagte oomblikke
word Goddelike genade sigbaar en voelbaar. Dit is soos Jesus in Matteus 13
in die gelykenis vertel... dat skatte oral te vind is en rondlê in doodgewone
saailande. Daar waar ek leef! Tussen gewone mense en in gewone situasies
is die Here se stem dan hoorbaar en sy dade sigbaar.
Ons kan nie en moet nie die Here se werk en stem inperk tot godsdiens nie!
Die Here is van die begin af in die “regte wêreld”! Hy was lankal, voor my
bestaan, daar aan die werk. Ek moet Hom net in die regte lewe volg en
daar saam met Hom doen!

Ernest