Een van die primêre vrese by mense is die vrees van onsekerheid.
Ons kan dit nie verdra dat ons nie weet wat die dag van môre inhou nie.
Ons wil onsekerheid vermy. Daarom wil ons ook nie ons “sekuriteit”
sommer net weggee nie. Moet ons nou ophou om te beplan vir die toekoms
as ons navolgers van Jesus is? Mag ons nie ideale hê nie? ‘n Nuwe huis of
motor koop nie? Ons mag! Dit moet net nooit ons lewens domineer nie.
Dit moet nie ons identiteit vorm of bepaal nie. Dit is hoe die wêreld dit wil
bepaal. Ons identiteit lê egter in Christus!

Wanneer ons identiteit afhang van wat ons ry, waar ons bly, en wat ons
kan kry, is ons in groot moeilikheid. Meer as wat ons kan besef. Dan vervul
die Here net die rol van voorsiener in óns behoeftes. Ons mag ook in mooi
plekke bly en mooi motors ry indien... en dit is baie belangrik, indien dit nie
ons liefde vir die Here en om Hom en ons medemens te dien, een druppel
water afwater nie!

Ons identiteit moet in Christus alleen lê. Nie in wat ons ry, waar ons bly,
of wat ons kan kry nie. Ons identiteit is in Christus alleen geanker. Navolging
van Christus gaan nooit oor kry nie, maar oor gee, en dien. Dit gaan nooit oor
selfbehoud nie. Dit gaan ook nie oor self-vooruitgang sonder Hom nie!

Ons is van nature geneig om sekuriteit te kies. Om veiligheid te kies.
Bekende omstandighede skep geborgenheid. Dit is nie as sulks verkeerd nie.
Die probleem kom in wanneer ons dink dit is “godsdiens” se werk om ons
behoeftes aan geborgenheid en veiligheid te vervul. Dink maar aan Paulus en
waardeur hy gegaan het as volgeling van Jesus. Alles behalwe veiligheid en
geborgenheid in godsdiens. Ons moenie toelaat dat vrees vir die onbekende
ons in veilige godsdienstige bane indwing nie. Dan weier ons om onbekende
weë vir die Here te bewandel en kom ons nie daar waar Hy ons wil gebruik nie.
Dan wil ons hê almal moet soos ons lyk, praat, sing, bid, kerk toe gaan...
Dan waag ons nie vir die Here nie.

Numeri 13 vertel hoe die Israeliete se vrees vir die onbekende hulle in opstand
teen Moses gebring het. Dit was pas nadat die 12 verspieders teruggekeer het
met die nuus dat die Beloofde Land, waarheen die Here hulle wil lei,‘n gevaarlike
plek is met reuse en sterk stede. Tien van die twaalf verspieders wil terugdraai.
Hulle wil terugkeer na Egipte, na die plek van slawerny. Kan jy dit glo!?
Maar dit is presies hoe vrees werk. Dit ontneem jou van jou ware identiteit in
die Here. Dit maak dat die slegste bekende situasie vir jou “veiliger” is as waar
die Here jou wil hê. Dan leef jy eerder in bekende slawerny as wat jy die
waagstuk aandurf om die Beloofde Land binne te val...
juis daar waar die Here se lewe en oorvloed wag!

Ernest