Geloofs-risiko maak dat jy die Here dien as die enigste Pad.
Die finale eindbestemming.
Geloofs-risiko maak ‘n verskuiwing vanaf jou verstaan van Jesus
as die een wat saam met jou die pad stap, na Hom as die Een
wat self die pad is.
Geloofs-risiko is die waagmoed om jou nie meer te bekommer
oor hoe jou lewenspad vorentoe lyk nie. Vrymakende geloof is
die waagmoed dat jy nie meer jou eie pad vorentoe haarfyn hoef
te beplan nie. God is in beheer! Wat regtig saak maak is dat jy
presies weet Wie die Pad vorentoe is!

Min gelowiges vind hulle op die pad van waagmoed. Die meeste
kies die pad van veiligheid en sekuriteit. 10 van die 12 verspieders
het dit gekies. Tagtig persent van die volk sou dit ook kies om eerder
terug te keer na Egipte. Ons kan onsself maklik uit alle geloof uit
“bestuur en beheer”. Maar die Beloofde Land is ongekarteer.
Onbekende terrein. Dit vra waagmoed en vertroue in die Here om
daarop te gaan loop.

Geloofsmoed is om te weet die pad vorentoe is onbekend, maar die
Here is nie onbekend nie! Geloofsmoed vra dat jy Hom volg op die pad.
Die Here se kinders is nie gedoem tot ‘n rondswerf in die woestyn, of ‘n
terugkeer na Egipte toe nie. Maar geloofs-risiko en waagmoed is uiters
nodig in die navolging van Jesus. Sy twee woorde is: “Volg My!”
1 Johannes 3:1 sê ons ís kinders van God! Dit is presies wie ons is.
Dit is ons identiteit. Navolgers van Christus. Onvoorwaardelik.

Waar Hy gaan, gaan ons. Jesus roep slegs dissipels om agter Hom aan
te kom. Niks anders nie. Daar bestaan nie iets soos dissipels wat Jesus
net deeltyds volg nie. Jesus roep ons heel eerste agter Hom aan, en nie
om net ‘n paar dinge vir Hom te gaan doen nie. Hy sê ook nie waarheen nie.
Hy sê net agter Hom aan! Net twee rigtingwysers: “Volg My!”
Dit is ‘n voltydse verhouding met Hom. Ons verloor onsself om Hom te vind.
Hy is nie óns Reisgenoot nie. Ons volg Hom!
In Hom is ons nuwe identiteit volledig gesetel!

Ernest