Die woord “dissipelskap” sluit nie sekere lewens-aktiwiteite in,
en ander lewens-aktiwiteite uit nie. Ons het begin fokus op
dissipelskap-modelle en dissipelskap-kursusse. Dit het ons laat dink
dat jy Jesus met ‘n bepaalde model of op ‘n bepaalde manier moet volg.
In plaas daarvan dat ons dissipelskap beter verstaan en verduidelik het,
het ons dit al nouer getrek. Dit het ons laat beleef dat sekere dinge net
nie belangrik genoeg vir die Here is nie. Ons moet regtig navolging van
Jesus verstaan as dat jy dit met jou hele totale lewe doen.
Daar is eenvoudig niks in jou lewe waarmee jy jou besig hou
wat nie vir die Here belangrik is nie!
Elke greintjie van ons bestaan het direk te doen daarmee hoé ons as
volgelinge van Jesus gevorm word. Die Here gebruik eenvoudig alles in
ons lewe en vorm ons deur alles in ons lewe. Ons hele lewe bestaan
eenvoudig uit oomblik tot oomblik dissipelskap-geleenthede om Jesus
volledig te volg! Dit hang van onsself af of ons kies om dit so te sien en
so te leef! Daar is nie dele van jou lewe wat vir God belangrik is, en ander
dele van jou lewe wat nie vir Hom belangrik is nie.
Romeine 12:1-2 beskryf dit treffend in The Message: “So here’s what I
want you to do, God helping you: Take your everyday, ordinary life –
your sleeping, eating, going-to-work, and walking-around life, -
and place it before God as an offering. Embracing what God does for you
is the best thing you can do for him... fix your attention on God.
You’ll be changed from the inside out... God brings the best out of you,
develops well-formed maturity in you.”
Ons deel ons lewens, en ons goed, en ons loop elke tree saam met Jesus
op ons reis. Dit beteken dat nie net ons verstaan van Jesus nie, maar veral
ons verhouding met Jesus verdiep. Jesus verander ons perspektief oor
“gewone” dinge in die wêreld. Ons kry in alles ‘n koninkryks-perspektief.
Ons doen niks “nie vir die Here nie”. Daarom is elke geleentheid nou ‘n
“voete-was” geleentheid. Om ook dit vir die Here te doen waarvoor ander
mense hulle neuse optrek. Jesus het aan mense hoop, waardigheid en
lewe gegee. Hy raak die mees onverwagte mense aan, maak tyd vir
gebrokenes, en praat met hulle wat vergete en verlore voel.
“Voete-was-dissipelskap”... Niks is onbelangrik vir die Here nie.
Doen alles wat jy doen van harte vir Hom. Lééf vir Hom.
Ernest