Die Nuwe Testament wemel van familie-taal. Neem nou maar
1 Johannes 5:1: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind
van God; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die ander lief wat
kinders van die Vader is.” Dit is familie-taal. Ook 1 Johannes 3:1:
“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons
kinders van God, en ons is dit ook...” Daarom is gehoorsaamheid aan
die Vader ons hartklop, soos dit Jesus se hartklop was hier op aarde.
1 Johannes 2:6 beklemtoon dit: “Wie beweer dat hy in Hom bly,
behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.” Prakties gebeur
hierdie gehoorsaamheid en nuwe lewe in God se familie veral
op drie maniere:

Gebed.
God se kinders het vrye toegang tot Hom deur Jesus Christus.
As hulle volgens sy wil bid, sal hulle gebede verhoor word –
1 Johannes 5:14-15. Ons kan met die grootste vrymoedigheid
na God gaan omdat ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons
enigiets volgens sy wil vra.

Liefde.
Kinders van God se vernaamste opdrag is om Hom en mekaar
lief te hê – 1 Johannes 3:11. Die karakter en aard van hierdie liefde
setel in God self. God se selflose liefde wat sigbaar word in Christus
en sy onvoorwaardelike liefde vir mense. Dit vorm die lewensruimte
waarbinne God se familie optree. Wie nie liefhet nie, verloën alles
waarvoor God en Jesus staan. Sonder liefde leef ons ‘n leuen.
Liefde is onskeibaar van gehoorsaamheid aan God. Dit is baie belangrik.
Daarom sê 1 Johannes 5:2: “Hieraan weet ons dat ons die kinders van
God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.”
Gehoorsaamheid sonder liefde is wettisisme. Maar liefde sonder
gehoorsaamheid is wanorde. Dit gaan nie oor die nakoming van
voorskrifte nie, maar om mekaar regtig lief te hê – 1 Joh. 4:19-21.

Selflose opoffering vir mekaar.
Net soos wat Jesus sy lewe vir ons afgelê het, word gelowiges
opgeroep om ook ons lewe vir mekaar af te lê – 1 Johannes 3:16.
Lees verseker 1 Johannes 3:16-17. Dit gaan nie net oor goeie en
warm gevoelens vir mekaar nie, maar diep ontferming teenoor
mekaar. Opoffering vir mekaar.

Dien die Here as kinders van die Here in die familie van die Here!

Ernest