“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde.” – 1 Korintiërs 13:13.
1 Korintiërs 13 sê dat ons altyd die beste van ander moet verwag
en hulle dan inderdaad so moet behandel. Ons het egter hierdie hoofstuk
in die Bybel verskraal tot ‘n romantiese teks wat hoofsaaklik by troues gelees
word. So word dit ‘n groot sentimentele teks met min impak in praktyk.
Dit “klink so mooi” maar verander ons so min. Ons moet egter besef dat
elke woord hiervan letterlik bedoel word vir die regte lewe!
Openheid na mekaar toe beteken nie om naïef of blind te wees vir mekaar
se foute nie. Die probleem is egter dat ons met wantroue in ons harte
rondloop ten opsigte van byna alle mense. Dit vergiftig ons na binne. Dit is
teen God se wil in terme van ons liefde vir mekaar. Dit breek brûe af. Die Here
se liefde moet juis brûe tussen ons en ander mense bou, anders is ons geloof
‘n klug. Ons moet immers ons naaste liefhê soos onsself. Agterdog teenoor
byna alle mense is siel-gif. 1 Korintiërs 13 leer ons om regtig die beste van
ander mense te glo en hulle so te behandel. Ons kan nie en mag nie
gewoon byna elke mens op sigwaarde wantrou nie.
God vra dit van ons om eerstens lief te hê!
Om die liefde van 1 Korintiërs 13 uit te leef moet ons ons afsonder in gebed,
en ons daarop toespits én die Here vra om ons te help om mense lief te hê.
Dan moet ons dit doelbewus gaan doen. Leonard Sweet vertel van ‘n priester
wat homself afgesonder het in gebed en homself toespits daarop om mense
lief te hê. Met sy terugkeer na sy geloofsgemeenskap was iemand omgekrap
omdat die priester te veel tyd aan gebed spandeer. “Terwyl jy rustig eenkant
gesit en bid het, moes ons almal harder werk”, het die persoon vir die priester
gesê. En toe voeg die persoon verder by: “En om alles te kroon, lyk jy nie juis
anders nie.” Toe antwoord die priester: “Maar jý lyk anders!” Bedoelende,
hy het in sy eenkant tyd saam met die Here geleer om ander mense deur
die oë van die Here se goedheid en liefde te sien.
Ons openheid vir ander mense, met die Here se liefde en goedheid in ons,
verander nie in die eerste plek die ander mense nie. Dit verander wel ons
manier van dink en kyk na hulle. Dit verander hoe óns húlle behandel.
Dit maak die evangelie magneties en trek mense na die Here toe!
1 Korintiërs 13 is nie maar ‘n mooi sentimentele teks nie. Jy moet jou
naam gaan inskryf op elke plek waar die woord “liefde” staan in verse 4-7.
Gaan eenkant toe, soos die priester, en gaan bid oor die uitleef van ware
liefde, soos die Here dit wil hê, in en deur jóú lewe.
Ernest