Nederigheid – dink minder aan jouself.
Nederigheid is nie om minder ván jouself te dink nie,
maar om minder áán jouself te dink. Dink mooi daaroor...
Die wêreld van ons dag dwing ons natuurlik in ‘n ander rigting in.
Die media bombardeer ons met inligting oor hoe belangrik ons is.
Vanaf ons face-book profiele tot ons persoonlike gesprekke gaan
dit oor onsself. Nimmereindigende behoeftes rondom onsself.
Christus se verhaal op aarde lyk heeltemal anders. In Filippense 2 lees
ons aangrypend hoe Christus sy Godgelyke eer vrywillig opgeoffer het
om mens te word ter wille van óns. Hy het eenvoudig minder aan Homself
gedink en meer aan ons. Maar Jesus dink dit nie net nie. Sy gedagtes word
konkrete dade. Die vraag is: Hoe kan ons op Jesus se selflose roete leef in
navolging van Hom? Ons moet leer om anders te dink voordat ons anders
sal leef. Filippense 2:5 sê: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar
ook in Christus Jesus was...” Paulus vat dit dan saam: “...die een moet die
ander een hoër ag as homself.”
Ons moet begin dink dat ander mense regtig belangrik is, maak nie saak wie
of wat hulle is nie. Jesus het ewe veel vir elke mens aan die kruis gesterf.
Daar is nie trappies van belangrikheid voor die kruis nie. Wanneer ons dink
dat elke mens belangrik is, dink ons reg. En wanneer ons hulle dan só behandel,
lééf ons reg. So groei nederigheid, in Jesus se Naam, want dit is sy wil.
Nederigheid lei tot respek vir ander mense, ongeag “wie” hulle is.
Elke mens het ‘n diep behoefte aan menswaardigheid. Mense wat nie respek
ontvang nie, gee woede in ruil terug, en daarmee is ons in ‘n bose kringloop.
Respek lê in klein dingetjies, soos om mense raak te sien, en byvoorbeeld eerste
te groet. Niemand is respek-bestand nie, en daarom is dit ‘n kortpad na hulle
harte toe. Filippense 2:3: “Moet niks uit selfsug of eersug doen nie,
maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”
Let op... nie gelyk met jou ag nie, maar hoër ag as jouself!
Ernest