Om in hierdie wêreld saam met Jesus op ‘n sending te wees
ter wille van die koninkryk van God, is nie ‘n traak-my-nie -agtige
saak nie. Daarom is dit regtig goed om mense te leer en toe te rus om
uit te reik met die evangelie. Maar dit is baie belangrik dat ons moet besef
evangelisasie is ‘n leefwyse. Dit is nie bloot ‘n program of ‘n uitreik van die
plaaslike kerk nie. Evangelisasie is ‘n voltydse manier van lewe. Jy moet dit
doelbewus uitleef. Jy moet intensioneel uitreik na mense met die goeie nuus
van die evangelie van Jesus Christus. Dit beteken om op ‘n voltydse “sending”
saam met Jesus en sy mense te leef.
Dit gaan nie oor die uitkomste van hierdie leefwyse nie. Ons tel nie siele waar
ons leef nie. Ons roeping in om eenvoudig vir Jesus te volg! Om in sy voetspore
te leef! Die jongmense sê dit is om “in the zone” saam met Jesus te beweeg.
Hy sorg vir alles. Hy verander mense. Nie ons nie. Hy lei ons op nuwe paaie.
Hy laat ons paaie kruis met mense op soek na Hom. Hy stel ons oog in op
mense in nood.
Wat behels die missie saam met Jesus? Dit behels om elke oggend op te staan
en opnuut aan te meld in diens van Jesus se sending in die wêreld. Dit behels
om my oë, hande, voete, en hart volledig in sy diens te stel. Dit behels dat my
dagboek en rekenaar ook op God se koninkryk gefokus is. So ook my verhoudings,
hoe ek motor bestuur in swaar verkeer, my huwelik, my vriende, my slaap en my
opstaan, alles! Ek volg eenvoudig in alles die wil van die Here. Dit beteken dat ek
heeldag op die uitkyk is vir tekens van die inbreek van God se koninkryk in die
wêreld rondom my. Dit lei my waar om te gaan, te praat, om te gee, te bid, fees
te vier, en selfs waar ek uit God se pad moet staan...
Dit neem my fokus weg van die nuutste ontstellende nuusberigte wat my lewe
wil beheer en regeer. Ek laat nie meer toe dat die slegte nuus van die wêreld
my lewe beheer nie. Net een persoon wat vandag iets meer van Jesus in en deur
my en ander gelowiges se teenwoordigheid ervaar, of wat in Jesus se oop arms
inhardloop, is eindeloos kosbaarder as die grootste nuus oor die kerk of die
wêreld wat faal.
Wat ons nou opgewonde maak, is dat ons daagliks raaksien hoe mense nader
aan God en aan mekaar lewe! Hoe mense die straat oorsteek om te help,
soos die barmhartige Samaritaan van Lukas 10, en nie anderkant verbystap nie.
Ons kan maklik soos die priester en die Leviet net ons kop skud oor die jongste
slagoffer van misdaad, en aan die ander kant verbystap, sonder om self iets
daaraan te doen. Volgelinge van Jesus kruis die straat om te help. Jesus se
gelykenis oor die barmhartige Samaritaan maak dit duidelik dat ons nie kan
kies wanneer of hoe ons ‘n naaste vir iemand anders wil wees nie. Om iemand
se naaste te wees op Jesus se voorwaardes, gebeur onverwags en onbepland.
Dit is wat evangelisasie uiteindelik ook is, in sy mees konkrete en treffende vorm.
Beweeg saam met Jesus, namens Jesus, waar Jesus gaan.
Ernest