Die sterkste manier om Christus se boodskap van verlossing uit te leef
is deur onselfsugtige liefde vir jou medemens. Mondelinge getuienis is
nooit onbelangrik nie. Tog is gesprek nie die mees suksesvolle getuienis
alleen nie. Dade van omgee spreek dikwels meer as mondelinge getuienis.
Hierdie dade van omgee is egter nie maar net humanistiese dade nie,
maar dit word gedoen in die Naam van Christus.

1 Korintiërs 10:31: “Of julle eet en of drink of wat julle ook al doen, doen
alles tot eer van God.” Kolossense 3:17 beklemtoon dieselfde waarheid:
“En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die
Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.” Verder ook vers 23:
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir
mense nie...”

Soos met die barmhartige Samaritaan, weet ons nie altyd wat op ons
wag om te doen nie. Dit het nie in sy dagboek gestaan dat hy op daardie
dag ‘n rower-slagoffer langs die pad gaan raakloop nie. Hy het ook nie
maar net jammer gevoel vir die slagoffer en verby beweeg nie. Hy het nie
maar net nog ‘n brief aan die plaaslike koerant geskryf en gekla oor die
toenemende misdaad nie. Hy het daadwerklik aan die Samaritaan self iets
gedoen met sy jammerte. Hy het sy dagboek eenkant toe geskuif en die
risiko gevat om betrokke te raak.

Ons is dikwels net “te besig”, selfsugtig te besig, met ons eie selfsugtige
belange. Die barmhartige Samaritaan het nie voor die tyd geweet wat
alles op hom wag as hy by die slagoffer stop en hom optel nie.
Tog het hy geweet dit is die regte ding om te doen. Hoeveel keer
weet ons dit nie... en ons doen steeds nie die regte ding nie.
Ons dade spreek baie harder as ons woorde.

Met ons dade van liefde en omgee maak ons impak vir die Here en God
se koninkryk. Ons moet kies om ons moue op te rol en ons selfsugtige
lewenswyse laat vaar. Dan sal ons die Here werklik met oorgawe dien.
Nie net wanneer ons oor Hom praat nie...
Is dit moeilik om dit te doen? Nee. Inteendeel. Dit is juis gewone dissipels
wat ongewone dinge regkry. Dit gebeur wanneer jy jouself uit die sentrum
van jou bestaan skuif en onvoorwaardelik die Here en sy mense dien.

Ernest