2 Timoteus 4:2: “... verkondig die woord; hou daarmee vol,
tydig en ontydig...” Ons hoef nie die evangelie op ander mense
af te forseer nie. Dan verstaan ons bogenoemde woorde van Paulus
aan Timoteus verkeerd. Paulus bedoel dat ons nie die luukse het om te
besluit wanneer of waar ons vir die Here wil leef of werk nie. Ons is altyd
aan diens, tydig en ontydig. Ons kry egter nie met bogenoemde woorde
van Paulus aan Timoteus die opdrag om ongenooid en sonder respek by
ander mense in hulle lewens in te storm en hulle as godsdienstige objekte
te hanteer nie.

Paulus skryf juis vir die Kolossense en Efesiërs dat ons sober en nadenkend
moet leef. Ons moet respek hê vir elke mens se menswees. Natuurlik skep
God ook spesiale oomblikke tussen onbekendes en vreemdelinge waar
mense Hom as Here kan ontmoet. Daar is egter nié ‘n spesifieke resep van
getuienis wat ons elke keer kan of moet volg nie.

Hoe getuig ons vir die Here?
Spontaan. Net soos ons nie ‘n spesifieke “resep” het oor hoe om oor ons
geliefdes te praat nie, maar dit eenvoudig spontaan en uit liefde doen,
net so kan ons spontaan uit ons liefde vir die Here getuig. Dit gee aan ons
almal vrymoedigheid. Ons hoef nie eers een of ander spesifieke kursus te
volg nie. Die dissipels het spontaan saam met die Here geleef, Hom gevolg
en oor hulle lewe as ooggetuies saam met Hom gaan praat. Hulle het hul
lewens-veranderende stories saam met die Here gaan deel met ander mense.
Ons woorde en dade oor Jesus volg spontaan uit ons lewe as sy volgelinge.
Ons praat graag oor Hom en sy liefde omdat Hy ons Here is! Ons lewe ook so
in sy 24/7 teenwoordigheid, dat ons Hom daarmee eer. Hy is deel van ons
daaglikse woordeskat en gesprekke. Hy skep geleenthede om reg te doen
en met wysheid te praat.

Soms gaan daar lang tye verby sonder enige “sigbare” vrug op hierdie lewe
in die koninkryk van God. Maar dit maak nie saak nie. Resultate is God se werk,
sy afdeling. Ons deel is gehoorsaamheid en getrouheid aan ‘n lewe vir die Here
by alle mense. Ons bly saai. Die Here laat groei. Hy sal elke saadjie laat groei
soos dit Hom pas. Daarmee is die juk van ons skouers af om mense te veroordeel,
te probeer verander, of skuldig te laat voel. Wanneer nodig volg ons wel in liefde
die Matteus 18 roete deur persoonlik met iemand te praat oor dit wat verkeerd is.
Jesus se aantrekkingskrag is Hyself. Nie vrees vir straf nie. Al dienende het Jesus
mense se oë oopgemaak om die nuwe lewe van vreugde en goedheid by God
te ontdek en te gaan leef.

Ernest