“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God,
en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie,
het geen kennis van God nie, want God is liefde.” – 1 Johannes 4:7-8.
Om lief te hê, om jou medemens onvoorwaardelik lief te hê, beteken ook
noodwendig om jouself bloot te stel. Dit beteken dat jy die boodskap van
Jesus die beste kan oordra, nie vanuit ‘n posisie van mag nie, maar vanuit
‘n posisie van weerloosheid. Jy laat mense toe om naby jou te kom.
Dit is ook wat Jesus met sy eie dissipels gedoen het. Die wonderlike van Jesus
se dissipelskap-styl was juis dat Hy sy dissipels naby aan Hom toegelaat het.
“Volg My!”, was sy oproep. Hy het nie net vertel van God se koninkryk nie.
Hy het sy dissipels toegelaat om naby aan Hom te kom en saam met Hom te
beweeg. ‘n Ware dissipel het uiteindelik nie net ‘n klomp inligting oor sy
meester nie, maar erf sy passie! Die goed wat jou Meester beweeg, beweeg jou!
Dit draai in jou binnekant rond, en jy begin al hoe meer en meer leef soos Jesus
geleef het. Dit beteken, in hierdie sin, dat dieselfde wat in en deur Jesus gebeur het,
ook nou in ons gebeur. Dit wat gemaak het dat Hy sy lewe wou gee vir ‘n stukkende
wêreld, begin ook al hoe meer in ons gebeur. Ons begin al hoe meer liefhê met Jesus
se liefde en gee ons lewe in diens aan Hom en ons medemens.
Die passie wat Jesus gedryf het, word ook ons passie.
Wat was Jesus se passie? Mense! Hy het sy lewe gegee vir mense! Sy boodskap aan
die godsdienstiges mense van sy tyd was dat jy nie kan sê jy het God lief as jy nie ook
lief is vir sy mense nie. Lees weer bogenoemde teks. Jy kan nie jou lewe vir God gee
sonder om jou lewe vir die wêreld se mense te gee nie. Godsdiens sonder liefde vir
jou naaste, is godsdiens sonder God – 1 Johannes 4:8. Die wêreld het meer nodig as
mense wat net kan praat oor wie Jesus was en wat Hy gedoen het. Die wêreld het
volgelinge van Jesus nodig, wat in sy spore loop, wat doen wat Jesus gedoen het,
wat meer en meer leef soos Jesus was. Wanneer ons dit snap kan ons nie meer
“aangaan soos normaal” nie. Ons moet vir die Here teenwoordig raak in hierdie
intimiderende en vreemde wêreld rondom ons. Ons moet Jesus daar gaan volg!
Nie net in die “veilige ruimte” van ‘n kerkgebou alleen nie.
Wat sou dit van ons vra? Net ‘n paar moontlikhede is die volgende:
Leef meer eenvoudig. Ons het heeltemal te veel goed wat te veel van ons aandag
vereis. Raak ontslae van onnodige “stuff” wat jy jou lewe lank bymekaarmaak
en wat die meeste van jou tyd vra.
Leef meer intensioneel. Kies doelbewus in alle omstandighede om ‘n
verteenwoordiger van die Here te wees.
Leef meer waaghalsig. Doen! Doen meer as om net oor alles te dink. Kyk wat
gebeur as jy eers doen en dan dink. Ons beplan te veel en doen te min en mis
so groot geleenthede om vir die Here teenwoordig te wees.
Leef meer inklusief. Maak jou hart oop vir mense, veral mense in nood.
Saai meer vrygewig van dit wat jy het. Kyk hoe vinnig kan jy saai.
Leef meer doelgerig teenwoordig waar mense jou nodig het, asook saam met
mense wat die Here volg. Geen mens is ‘n eiland nie.
Die Here sal jou wonderlik seën, en soveel mense deur jou seën...
Ernest