Gee jouself nou bietjie meer tyd as gewoonlik, vir maaltyd-kuier-tyd saam met die Here...
Verteer die hele boodskap...
Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie!
God het ons lief. Meer as enige iets anders het Hy ons lief! Johannes 13:1 sê: “Jesus het
sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.”
Glo jy dit regtig? Besef jy die grootheid van God se liefde vir jou? God wil sy liefde aan jou
beklemtoon deur die Woord en die nagmaal, die saam eet en drink van die brood en wyn.
Vier die liefde van God én ons verlossing, deur die Woord en die brood te eet, die wyn te
drink. Hiermee, in hierdie sakrament, besef ons iets van die grootheid van God se liefde.
Ons besef ook: Ons leef so min die werklikheid daarvan uit. Ons ontmoet die Here in die
nagmaal in ‘n tweegesprek. God praat met ons uit die Woord en deur die tekens van die
brood en die wyn. Hy praat oor sy liefde vir ons. Ons antwoord die Here.
Ons bely ons geloof, en ook ons sonde... ons bely onder leiding van die Heilige Gees.
Ons doen dit nou in ‘n gesprek-gebed:
“Drie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees: Dankie dat ons saam met U ons verlossing in
Jesus Christus kan vier. Dankie dat ons U verklaring van U liefde vir ons in U Woord kan lees,
en dat ons dit in die tekens van die brood en die wyn kan vier. Dankie Here dat ons met alle
eerbied en in opregtheid met U kan praat. Ook met vrymoedigheid is Jesus Christus. Dankie
vir U liefde vir ons... en dat ons dit ook met dankbaarheid kan gaan uitleef. U stuur ons!
Ons loof U Here, want U is goed, aan U liefde is daar geen einde nie! Ons bely dit Here:
Ons besef so min van die grootheid van U liefde vir ons. Ons leef so min daarvan uit,
teenoor U en teenoor ons naaste. Ons is nie, en wil nie oneerbiedig wees nie... maar die
hemel weet hoeveel pyn ons U aandoen deur klein te praat en klein te doen met U liefde.
Ons weerstaan die Heilige Gees. Ons bedroef die Heilige Gees. Dit gaan ons verstand te
bowe dat U ons nog enigsins verduur. Dit is werklik net U liefde en genade wat ons dra.
U gee aan ons elke asemhaling. U gee aan ons elke hartklop. Dank ons U daarvoor? Nee...
Ons kla eerder daarmee. Ons kla oor so baie dinge. U gee aan elkeen ‘n unieke liggaam,
om in te lééf! U vorm ons, maar loof ons U daarvoor? Nee. Ons kla oor hoe ons lyk,
en hoe ons oud word.
As gemeente is ons die liggaam van Christus. En tog is ons dikwels onderling verdeel,
afgunstig, selfsugtig, nie toegewy nie. Ons bid so min, getuig so min, dien so min...
U gee aan ons U skepping. Maar ons kla oor die seisoene, die weer, en wat ons besit in
U skepping. U hou die aarde in sy baan en laat ons daarop leef. U sorg! Maar ons beskadig
U skepping dag en nag. Ons sê U gee nie om nie, terwyl óns met U skepping mors. U gee
vir ons blou lig en sonskyn, maar dan vra ons vir reën. U gee reën, dan vra ons vir sonskyn.
Ons wil koue ruil vir hitte, en hitte vir koue. Een bid vir reën, en die ander bid daarteen.
Heeltyd ons wil, in plaas van U wil...
U oorlaai ons met kos, veel meer as daaglikse brood, maar ons blameer U vir hongersnood.
Ons kyk weg van voedsel-armes terwyl ons mors met kos. Ons leef selfsugtig-oorvloedig...
Here, waarmee is ons besig? Ons bely ons selfsug en eersug.
U Naam is so groot! Maar ons leef en getuig U Naam so klein. Ons misbruik U Naam op elke
terrein. Ons het meer lof vir aardse mense en helde as lof vir God. Ons sing meer vir die wêreld
as vir Christus wat ons gered het. Vergewe ons, Here ons God. In U totale kosmos is ons so klein.
Net U sien ons raak. Net U raak ons aan. En tog dring ons daarop aan... dat U vir ons moet gee
presies net soos ons wil hê, puntenerig-selfsugtig, óf, ons redeneer selfs of U bestaan!
Wat U geskep het wil ons gebruik om U bestaan te bewys... asof ons opinie die werklikheid
waar maak, asof ons opinie al is wat saak maak, asof ons die saak en die waarheid daarmee
uitmaak en klaarmaak... Here God, ons is byna onsigbaar klein.
Vergewe ons hoogmoed op elke terrein. Ons redeneer meer óór U as om te praat mét U.
Here, U het alle rede om ons aan ons lot oor te laat. Maar doen U dit met ons? Nee! U neem nie,
maar U gee. U gee U liefde, U genade, U Seun, U vergifnis, nuwe lewe, U beloftes, brood en wyn,
U seën! U deel U liefde uit aan ons. U deel U liefde in brood en wyn. U gee lewe, nuwe lewe,
ewige lewe. Hemelse Vader, U liefde hou net nooit op nie. Aan U liefde is daar geen einde nie.
Al bedroef ons U, al is ons ongehoorsaam aan U, U verander nie! Ons boosheid maak nie U liefde
minder nie, ons goedheid maak nie U liefde méér nie. Ons geloof verdien nie U liefde nie.
Ons dwaasheid stel ook nie U liefde vir ons in gevaar nie. Goddank! Aan U liefde is daar geen
einde nie! U het ons nie minder lief as ons faal nie. U het ons ook nie meer lief as ons sukses
behaal nie. U liefde hou net nooit op nie. Dankie Here! Dankie dat ons U kinders is, dat ons U
skepping is, dat ons U sin is, dat ons nou hier op aarde U oë, U gesig, U hande, U beeld,
U gelykenis is. Dat ons sáám U liggaam is. Die liggaam van Christus. Dankie dat ons weet ons is
onveranderlik U kinders! U het ons tot die uiterste lief – Johannes 13:1. Niks kan ons skei van
U liefde nie – Romeine 8:38-39. Dit maak ons meer as oorwinnaars – Rom. 8:37. U gee dit vir
ons swart op wit in U Woord!
Christus het al ons skuld betaal. Ons is vrygespreek deur ons geloof in Christus. U het ons
inderdaad só baie lief! Niks kan keer dat U U genade-werk in ons voltooi nie. U, Heilige Gees,
pleit vir ons by die Vader – Rom. 8:26. U, Here Jesus Christus, pleit vir ons by die Vader – 8:34.
U verseker ons dat niks ons ooit van U liefde kan skei nie! – Ons kan dit swart op wit in U
Woord lees, ons kan dit in die brood en wyn sien, en ruik en proe. Ons sal dwaas wees om U
nie te glo nie, en nie die werklikheid van U liefde te gaan lééf nie! Ons wil nou eens en vir altyd
daaruit leef en dit vir U gaan uitleef in hierdie wêreld. Niks kan ons buite die kring van U liefde
plaas nie. U sal ons ook nie liewer hê as ons eers begin goed doen nie, of meer doen as wat ons
nou doen nie, of ‘n beter mens probeer wees nie. U het ons klaar tot die uiterste toe lief!
Natuurlik ken U al ons sonde. Alles daarvan! Natuurlik moet ons ons daarvan bekeer en dit bely.
Maar ons weet, U het nié ons rugsteun nodig om ons lief te hê nie. Ons kan met niks U liefde
verdien nie. U het ons klaar tot die uiterste lief! Ons loof U here, want U is goed, aan U liefde is
daar geen einde nie! Ons dank U Here Jesus, want U het ons tot die uiterste lief aan die kruis.
Ons dank U Heilige Gees, wat ons troos en lei, en vir ons pleit by ons Vader en ons God.
Heilige Gees, U oortuig ons: Niks in die totale skepping kan ons van die liefde van God skei nie,
die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. Ons loof U Here, want U is goed. Aan U liefde
is daar geen einde nie – Psalm 136:1. Amen!”
Ernest