Ons hoor dikwels dat mense sê: “Ek het maar so grootgeword”, of,
“ek is maar so gemaak en so laat staan”. Dit druis heeltemal in teen
God se bedoeling met ons om deurentyd te groei in ons roeping en
die uitlewing daarvan vir Hom in hierdie wêreld. Vir baie mense is dit
die standaard verskoning om nie te verander nie en hul selfsugtige self
te bly.

Navorsing het getoon dat relatief gesonde mense tot op ‘n hoë ouderdom
bly leer en groei. Ons brein is leerbaar en aanpasbaar. Dit is net ons eie skuld
as ons koppe bly vassteek in uitgediende denkpatrone. Ons koppe is deur die
Here so “bedraad” in sy liefdevolle genade dat ons lewenslank aan’t groei kan
wees, en moet wees.

Die geheim is verseker om God-waarts te bly groei en nié self-waarts nie!
Hiermee help die Heilige Gees ons. Om nie te wil groei in ons verhouding
met die Here nie is om die Heilige Gees te weerstaan.

Die probleem is dat ons “grootword”, en “slim” raak en dan meer antwoorde
het as vrae. “Volwasse” Christene wil dan ook net dinge veilig en voorspelbaar
doen in hulle dienswerk vir die Here. Alles in die kerk moet beheerbaar en wees.

Tog sê Jesus ‘n paar keer dat ons weer soos kinders moet word en glo.
Jesus verwag ‘n dringende terugkeer na ‘n tweede naïwiteit van kindwees in
ons Vader se teenwoordigheid. Jesus sê in Matteus 18 dat, as ons nie verander
en weer soos kinders word nie, sal ons nooit die koninkryk van God sien nie.

Om in die Here te groei maak ons kleiner en Hom groter! Dit maak ons broos
en laat ons weer in die klein dingetjies vreugde vind. Dit maak dat ons nie meer
groot ego’s in stand hou nie. Ons groei ook kleiner en ander mense om ons groei
groter Hulle word vir ons meer belangrik as onsself. Dan kry Paulus se woorde in
Filippense 2 soveel meer betekenis vir ons: dat ons begin opkyk na medegelowiges.
In nederigheid ag die een die ander hoër as homself.
God alleen is groot en bly groot! Hoe kleiner ons groei,
hoe meer besef ons iets God se onbeskryflike grootheid.

Ernest