Die belangrikste geestelike lewensritme is Woord en gebed.
Bid en Bybel. Dit is ons verbinding met God waarsonder ons nie
kan leef nie. Dit moet tuis hoort in ons elkeen se normale lewensritme.
Om die Woord van God te oordink en te bid is wandel saam met God!
Dit is lééf saam met God. Psalm 1 leer ons om die Woord van God dag
en nag te oordink. Lees Psalm 1. Ons kan nie net êrens in die dag die
Bybel op enige plek oopslaan en gou ‘n versie lees nie. Dan maak ons
die Bybel ‘n “stil” boek. Dan praat die Woord nie regtig met ons nie.
Die uitdaging is om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering.
Dan is die Bybel in die Heilige Gees se hande wanneer jy dit lees, en daag
die Woord deur die Gees jou uit om God met jou hele hart lief te hê.
Dit is lewensveranderend! Dan rig die Woord van God jou keer op keer
om die prioriteite in jou lewe te heroorweeg, en aan te pas onder leiding
van die Heilige Gees, wat jou lei na God toe... en na ander toe,
ter wille van Hom!
Wanneer Woord en gebed saam loop in jou lewe, moet beide gaan om
die verheerliking van God in jou lewe. Gebed gebeur gereeld en deurlopend
in jou lewe. Dit kan woordeloos en woord-vol wees. Gebed is nie net ‘n goeie
gewoonte nie. Gebed is om in verwondering voor God neer te buig, neer te val.
Dit is ook om te sing voor die Here. Op jou eie of saam met ander. Om te juig
oor God se grootheid. Gebed is nie net ‘n paar gepaste woorde in God se
rigting nie. Gebed is om met eerbied in God se teenwoordigheid te kom.
Dit is ook om net doelbewus op die Here te wag...
Leef doelbewus die lewensritme van Woord en gebed.
Nie soos en terwille van jou eie gerief nie, maar ter wille
van God se eer en sy wil!
Ernest