Gebed is om te buig voor God se wil.
Ons gebede is baie dikwels so selfgerig en ons selfsugtige planne
druis ook in teen God se wil. Ware gebed is die uitdrukking van ‘n
lewende verhouding met God. Gebed is aanbidding, verwondering,
nederigheid, en rus by God. God is ons op sý eie voorwaardes genadig.
Gebed gaan oor God. Gebed is nie in die eerste plek die aanspreek van
ons eie behoeftes nie. Gebed rig ons weg van onsself, op God! Op God
se wil. Dan eers sal ons weet hoe om ons eie nood en die van ander
mense gelowig aan die Here se voete neer te sit.

Gebed is daarom ‘n lewenslange leerskool. Dit is geen wonder dat Jesus
se dissipels in Lukas 11 vir Hom vra om hulle te leer bid nie. Gebed gebeur
nie maar net outomaties nie. Gebed, opregte gebed, kom in die eerste plek
hart-langs. Deur en uit jou hart. Gebed vra daarom dikwels dissipline en
deursettingsvermoë. Dit gebeur maklik dat jy jouself aan die slaap bid as
dit nie opreg en hart-langs kom nie. Dit gebeur ook as ons gebede so
stereotiep raak dat dit nie eers ons eie hart aanraak en ons eie aandag
boei nie...

Gebed is ook nie ‘n stortvloed van woorde nie. In gebed is ons in die
teenwoordigheid van die Skepper van hemel en aarde! Die almagtige God!
Die enigste God, wat tyd en ewigheid in sy hand vashou. Daarom is ons
woorde dan ook dikwels min in sy teenwoordigheid. Prediker 4:17-5:2 leer
ons iets daarvan. Jesus roep ons ook op, in Matteus 6, om nie in ons gebede
te probeer beïndruk met ‘n stortvloed van woorde nie.
Stilte in die doelbewuste teenwoordigheid van God “praat” dikwels baie
meer as baie woorde. Minder woorde en meer opregtheid. Dit is wat dan
saak maak. Ons moet ons woorde weeg met die doel om God se wil te bid,
en God se wil te gaan doen!

Ons moet ook wag op God. Gebed werk nie soos “google” wat ons dadelik
antwoord op aanvraag nie. In gebed en na gebed wag ons op die Here.
God staan nie in ons diens nie, met die grootste respek gesê.
C. S. Lewis sê met reg dat God nie ons “Grandfather in heaven” is nie,
wat altyd goedgunstiglik wil sorg dat sy familie ‘n goeie tyd beleef nie,
en dan daarna uit die pad staan nie.

Buig opreg in gebed voor God, en buig ook voor die wil van God.
Bid vir God se wil en doen God se wil.

Ernest