“We don’t try to change the world. As followers of Jesus we live in
and invite others to a different world – the kingdom of God” – Anoniem.

Volgelinge van Jesus werk, en speel, en leef vir ‘n ander Heer, as vir die
wêreld. Ons is gewoond aan uitlatings soos “plig kom voor plesier”, of
“in die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien”. Maar moet werk
net “swaar” wees en “sleg” beleef word? Nee! Ons werk vir ‘n ander Heer!
Daarom moet ons anders dink oor werk. Ons is voltydse dissipels van Jesus,
“vermom” as mense met ‘n dagwerk. Soos iemand dit gestel het:
“I’m a disciple of Jesus disguised as a person with a day job.”
Daarom moet ons anders dink oor werk.

In ‘n neutedop, stel die Nuwe Testament die volgende beginsels ten
opsigte van werk:
Werk is ‘n gegewe – nie ‘n luukse of ‘n straf nie – 1 Tessalonisense 4:11.
Harde werk word met integriteit gedoen om nie geldelike laste op ander
te lê nie – 1 Tess 2:9.
Luiheid vermom as geestelike vroomheid is korrup – 2 Tess 3:10-12.
Harde werk geskied tot voordeel van swakkes en armes – Hand 20:35.
“Beter” of meer gesiene beroepe wat meer geld maak of meer erkenning
kry in die samelewing, is nie gelyk aan bevordering in die koninkryk van
God nie – 1 Pet 2:18.

Jesus het alles nuut kom maak! Die vloek wat werk vanaf Genesis 3
vergesel het, word in Jesus se Naam weg geleef en reg-geleef! Ons werk
nie meer “voltyds” vir een of ander maatskappy net om ‘n salaris te kry nie,
en na ure werk ons vrywillig “vir die kerk” nie. ons is voltyds in Jesus se
diens!
Ons doen nou alles vir die Here!... en nie vir mense of aardse base in die
eerste plek nie. Natuurlik werk ons ook vir ons aardse base, maar ons is
nie bereid om ons siel te verkoop as dit gevra word nie. Werk moet ook
nie ‘n verslawing wees nie. Dan word werk ‘n nuwe afgod.

Dien die Here en ander mense in jou werk. Werk ook hard tot voordeel
van ander. Werk regverdig en vol deernis. Sien om na mense en nie net
na winste nie. Lei deur ander te dien. Werk en bestuur op so ‘n manier
om die beste en mooiste uit ander te haal.

Ernest