Jesus Christus se ganse lewe op aarde is een van weggee.
Hy het sy ewige posisie in die hemel weggegee vir ongeveer
drie dekades hier op aarde, ter wille van ons!
Lees verseker Filippense 2:5-11.
Hy wat ryk was het om ons ontwil arm geword, sodat ons wat
arm was ryk kon word! 2 Kor 8:9 stel dit so:
“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk
was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy
armoede ryk kon word.”

Dit gaan natuurlik nie net om materiële rykdom in die eerste
plek nie, maar om lewe, en om te dien. Jesus het sy lewe gegee
sodat ons wat dood was lewe kon kry!

Maar dit gaan ook oor die materiële. Tydens sy aardse lewe
is Jesus gereeld aangegryp deur vrygewigheid. Wanneer die
weduwee in Markus 12 haar laaste sente weggee vir God,
jubel Jesus daaroor. En wanneer die vrou van Markus 14
kosbare reukolie oor sy kop gooi, vertel Jesus dat al die
geslagte van nou af oor haar sal praat. Om te gee, weggee,
is die nuwe leef-ritme vir elke volgeling van Jesus.

Die Here se beginsel dat ons vrygewig moet weggee is vir ons
almal bedoel. Maak nie saak of ons net twee stelle klere het,
soos die armes met wie Johannes die Doper praat in Lukas 3
praat, of baie geld soos Saggeus, ons almal is bestuurders van
die gawes van God. Ons het nie die luukse om te wag totdat
ons eers “genoeg” het voordat ons weggee nie. Ons is nie die
eindverbruikers van ons geld of besittings nie. Ons is slegs
rentmeesters van dit wat God aan ons toevertrou het.
Alles behoort God!

Ons roeping in om God se goedheid, genade en gawes op
verskillende maniere te deel met ander. Die Here kyk nie wat
ons spaar nie, maar wat ons met ander deel. Selfs nie eers ‘n
beker koue water aan iemand gaan ongesiens by die Here verby
nie. Selfs die heel armste onder ons kan en moet weggee.
Weggee maak ons ryk. Dit bevry ons van gierigheid.
Dit laat God se koninkryk op ongewone maniere deurbreek.

Ernest