God het die heelal uit niks geskep! As beelddraers van God
behoort ons ook kreatief te leef. God skep die mens om óók
kreatief te wees en saam met Hom, as sy verteenwoordigers,
te leef. Iewers langs die pad verloor ons hierdie kreatiwiteit.
Dink net hoe maklik het ons as vyf-jariges ‘n prentjie geteken,
en hoe moeilik doen ons dit nou.
God se kreatiwiteit sluit onder andere in om die heelal uit niks
te skep en dit in stand te hou. Christus se kreatiwiteit sluit in
om ewige potensiaal in sondaars raak te sien en hulle vir
Homself te koop. Duur gekooptes aan die kruis.
Die Heilige Gees se kreatiwiteit sluit weer in om losgekoopte
sondaars te omskep in lewende tempels van die Allerhoogste
God.
As herskeptes deel ons in hierdie kreatiwiteit van die lewende
God. Prakties beteken dit om jou God-gegewe gawes kreatief
aan te wend tot uitbreiding van God se koninkryk en tot sy eer.
Dit maak nie saak wie jy is en watter gawes jy het nie. Dit geld
almal. Dit maak nie saak of jy jonk of oud is nie, of jy werk of
afgetree is nie. Almal in alles. Dink en leef kreatief. Laat toe
dat jou gawes vir die Here en vir ander mense diensbaar is.
Dien daarmee! Kreatiwiteit is juis nie selfsugtig nie.
Dit is verseker mededeelsaam, as jy dit aanwend soos wat God
daarmee bedoel, deur jou. Kreatiwiteit is nie opeisend nie, maar
ruimteskeppend.
Bou kreatief saam met God aan sy wêreld en sy koninkryk.
Dien met alles in jou... alle God gegewe potensiaal in jou!
Leef kreatief saam met God.
Ernest