Ons moet nooit ophou leer nie. Verseker moet ons nie ophou leer
uit die Woord van God nie. Om op te hou leer is om op te hou leef.
Sodra ons ophou om kreatief te leer, hou ons ook op om kreatief
te leef. Alles word spoedig vaal, vervelig en voorspelbaar.
Later raak ons so afgestomp dat selfs God se Woord nie meer ons
voorspelbaarheid moet versteur nie. soos die oom gesê het:
“Ek het klaar gekatkiseer.”

Ons leef net gemaklik in onsself. Vaste verhoudings. Geykte roetines.
Slaafse gewoontes. Luiheid om nuwe dinge te waag. Eintlik maar
gevangenes van onsself. Sonder leergierigheid of waagmoed.
Te veel mense groei net sover as wat dit vir hulle gemaklik is
om binne hul eie omgewings te oorleef.

Ons moet regtig deurgaans vrae bly vra. Waar wil God my nou gebruik?
Waar kan ek tot hulp van ander mense wees, al stel dit uitdagings aan
my? Ons moet oopkop bly oor nuwe uitdagings om die koninkryk van
God uit te bou. So bly ons ook groei in ons geloof. So open daar nuwe
roetes na God en na ons naaste. Ons kan nie bekostig om geestelik te
stagneer nie.

As dissipels van Jesus moet ons lewenslange studente van die Woord
van God en van die lewe wees! Verwondering en groei voor God moet
ons lewe oorstroom. Dan word ons nooit “oud” nie.

Leef!!... leergierig en leefgierig!

Ernest