Doodgewone mense kan regtig “ongewone” lewens leef,
deur doelbewus vir die Here te leef. Dit is ‘n lewe van vryheid
en oorwinning in die Here. Dit is vir alle doodgewone mense
beskore. Dit is om jou pad en jou verhaal saam met Jesus te loop.
Dit lê in die diep verhoudings wat jy saam met ‘n paar mense het
en waarin julle saam groei. God se koninkryk gebeur immers elke
dag met elke mens met wie jy te doen het.
Dit gebeur ook aanhoudend met elke mens met wie jy te doen
het in dade van omgee, bemoediging, gebed en ondersteuning.
In almal met wie jy te doen het, in die kleinste dade,
verteenwoordig jy die Here. Kolossense 3:23:
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here
en nie vir mense nie.” So sal ons per implikasie ook die beste
doen, na ons vermoë, vir elke mens met wie ons te doen het.
“What is worth doing, is worth doing well.”
Oswald Chambers se boek-titel beskryf dit mooi:
“My Utmost for His Highest”. In die fynste detail leef ons vir
die Here. Wat help dit ons wil die hele wêreld verander, maar
ons verander nie die detail van ons eie lewe nie? Dan mis ons
die hele punt van ‘n lewe vir die Here. Woord vir woord en
daad vir daad groei die koninkryk van God deur ons wat Hom
verteenwoordig.
Dit is om vrees, gejaagdheid, agterdog en geïrriteerdheid
dood te lééf deur die genade en die krag van die Heilige Gees.
Om onder leiding van die Heilige Gees te leef is ook nie om die
“veiligheid-eerste” roete te leef nie. Dit verg doelbewuste keuses
om op Jesus se roete te leef. Hierdie roete gebeur wanneer ons
elke dag saam met Jesus loop asof vir die eerste keer.
Opgewonde. Toegewy. Ons weier om gewoond te raak aan
besonderhede en verhoudings. Ons leef “in the moment”,
saam met mense, en in omstandighede. Elke kuier en saamwees,
elke geleentheid, elke omstandigheid, is ‘n ontdekkingsreis in
oorgawe, vir die Here én saam met die Here.
Leer om in verwondering te leef.
Ernest