Die Gees self bid vir jou

Job het die Here gedien, en tog het God toegelaat dat hy alles verloor.
Natuurlik stoei hy toe met die Vader en soek hy antwoorde,
totdat hy hom maar uiteindelik net oorgee in die hande van die Here.
En God antwoord hom.
Dit is toe dat Job erken dat hy voorheen van God gehoor het,
maar dat hy Hom nou met sy eie oë gesien het.

Dikwels lê die diepste vorm van gebed nie in praat nie,
maar in doodgewoon stil wees by die Here.
By die punt waar ons niks het om te sê nie…
Waar ons net oorgee en luister….
“Praat U Here, U kind luister…”

Daarom sê Romeine 8:26:
“Intussen het God sy Gees aan ons gegee,
om ons in ons swakhede te help.
Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet
wat ons moet bid nie.
Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons.”
Dit is so wonderlik om te weet dat God ons wil help om te bid.
Dat Hy presies weet wat om vir ons te bid.
En veral weet hoe om te antwoord!
Dit bly ‘n wonderlike misterie,
dat God sy Gees vir ons gee om vir ons te bid.

Hoe dikwels weet ons regtig nie wat om te bid nie.
Ons weet nie wat ons van God behoort te vra nie.
Ander kere kan ons nie eers bid nie.
Ons gedagtes is ‘n warboel van los drade wat nie gefokus kan raak nie.
Dan is daar die kere wat ons nie wil bid nie, vir watter rede ookal.
Ons raak selfs so besig dat ons vergeet om te bid!

In dit alles kom ons Vader ons tegemoet.
Hy ken ons.
Hy weet dat ons dikwels sukkel om te bid.
Daarom bid sy Gees juis vir ons in tye wanneer ons gebedslewe sukkel.
Die Gees gee selfs vir ons die Woord sodat ons daaruit kan bid.

Wanneer jy sukkel om te bid,
onthou dan dat die Gees en die Woord daar is vir jou.
Jy hoef nie altyd te weet wat en hoe om te bid nie.
Die Gees en die Woord weet!

Ernest