“Julle is die sout vir die aarde...” – Matteus 5:13.
In Bybelse tye was sout van groot belang vir bewaring en
bereiding van voedsel, die ontsmetting van wonde,
‘n meerdoelige gebruiksmiddel en geneesmiddel. Hippokrates,
die “vader van die geneeskunde”, het reeds in die vierde eeu
voor Christus aanbeveel dat die mond en neus met soutwater
uitgespoel moet word! Baie mense volg vandag nog die raad.
Deur die eeue het sout vir mense belangrik gebly. Sout was baie
kosbaar en is selfs in die Romeinse ryk as betaalmiddel gebruik.
Geen wonder nie dat ons ook die spreuk het dat “iemand sy sout
werd is”. Die digter Shelley (uit “Poem to Maria Gisborne”) het
van sout-van-die-aarde-mense gepraat as diegene... “without
whom this world will smell like what it is, a tomb.”
Sout gee smaak, verhoed bederf, ontsmet, en help bewaar.
Dit moet in kos ingewerk word en ingeknie word. Dit kan nie
in die houer bly nie. So moet ons as Jesus volgelinge ook wees.
Ons moet stilweg smaak gee. Bederf teëwerk en wonde genees.
Dit is die sout van Christus. Hy doen dit alles... deur ons.
Ons is die Here se sout wat Hy strooi en inwerk.
Ernest