Daar word dikwels deur mense gevra of die Ou Testament
in die lig van die Nuwe Testament nog sin het. Die Ou Testament,
so redeneer hulle, is immers ou geskiedenis, uitgediende gebruike
en wette, en profesieë wat reeds vervul is. Ons moet onthou die
“wet en profete” was Jesus se “Bybel” en is die eerste bedryf tot
die koms van Christus! Sonder die Ou Testament sou talle Christelike
begrippe onverklaarbaar wees en nie sin gemaak het nie. Versoening,
verlossing, geregtigheid, heiligheid, verbond, die paaslam, die Paasfees,
en veral die merkwaardige liefde van God vir die mens. Die Vader tree
reeds in die Ou Testament as oorweldigende krag en liefde na vore,
liefde wat Hy in sy Seun sou uitbrei en bewys.

Jesus haal ook gedurig die Ou Testament aan omdat die een in die
ander oorloop. Die Ou Testament is die voorbereiding op die koms
van Jesus. Daarom sê Jesus in Matteus 5:17:
“Ek het nie gekom om die wet of die profete ongeldig te maak nie,
maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.” Dit is immers ‘n
geweldige kyk op die almagtige Skepper God en ‘n diep kyk op die
wese van God. God openbaar Hom só, reeds in die Ou Testament.
Niks van God se openbaring raak onbelangrik nie!

Ons kan daarom vandag nog saam met die Psalms sing, en bid,
saam met Moses onder die wolk van God trek, saam met Dawid
intense momente saam met die Here beleef, en saam met die
profete, soos Jesaja, troos.
Christus self is die vervulling van die wet en die profete.
Soos Hy alles wat Hy beloof tot vervulling en volle betekenis
sal bring in ons elkeen se lewe.

Lees die hele Woord van God.
God het sy hele Woord vir ons bedoel.
Eet die Woord, en moenie net “nagereg” uitsoek nie.

Ernest.