Jesus sê: “As iemand ‘n regsaak teen jou begin,
kom betyds tot ‘n skikking.” – Matteus 5:25.
Wanneer Jesus sê: “Skik betyds!” kom daar baie beginsels
in die spel wat Hy hier noem: versoening, straf, kwaad wees,
opoffer, vrede maak. Jesus het die geleerdes en juriste van sy
tyd dopgehou en tot die gevolgtrekking gekom:
Bly sover moontlik weg uit ‘n hof. ‘n Regsaak bring implikasies
mee wat mense dikwels nie verwag nie. Regters is ongelukkig
nie engele met die wysheid van Salomo nie.

Moenie eiewys wees nie. Probeer liewer ‘n ooreenkoms bereik
met die een wat met jou in ‘n saak is, anders kan jy jou dalk
misreken indien die proses voortgaan. Werk aan versoening,
opoffering en vrede maak. Daar kom ‘n tyd in ons elkeen se lewe
dat ons om verskoning moet vra of iemand moet probeer vergoed
vir vermeende skade.

Dikwels word die reg gebruik om mekaar te probeer uitoorlê,
of wraak te soek, of nie te wil toegee nie. Dit is nie die pad van
Christus nie. Vergifnis, vrede, en ‘n beter verstandhouding
is waarna ons moet streef.
Soms weet mens jy is in terme van regverdigheid reg, maar dat
die ander party onbeweeglik is en na geen rede wil luister nie.
Bid dan opreg dat die Here sal lei en help met dit wat gaan volg.

Jesus vra nie hier dat ons in die stof moet gaan lê om fyn getrap te
word ten koste van geregtigheid en regverdigheid nie. Hy maak dit
later duidelik aan sy dissipels dat daar juis ook ‘n tyd kom dat stof
van dissipels se voete afgeskud word.

Soek allereers die Christelike weg van vergifnis en skikking.
Daarin lê die geboorte van ‘n nuwe ingesteldheid en gees van
begrip vir ander mense.

Ernest