“So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is,
laat U Naam geheilig word.” – Matteus 6:9.
Waarom beveel Jesus ons om God “Vader” te noem,
en te bid dat sy Naam geheilig moet word? God het ons Vader
in Christus geword. God is ménslik vergelykbaar met ‘n sorgsame
en liefdevolle aardse ouer. God is trouens oneindig meer en beter
as enige “beste” aardse ouer. Daarom kan Hy met innigheid en
dank “Vader” genoem word en bring die intimiteit van hierdie
titel ons ook nader aan Hom wat ons oneindig liefhet as sy
kinders!
Ons sou kon sê: Dit gee aan Hom ‘n “menslike” gesig, soos
Jesus vir ons ‘n menslike gesig het. Ons weet ook: Waar daar
menslike ouers is wat nie veel omgee en liefhet nie, is God
steeds as ewige Vader altyd daar vir ons! Hý het ons innig lief.
Waarom bid ons dat sy Naam geheilig word? Dit beteken:
Gee ons ten eerste dat ons God reg sal ken, en Hom in al sy
werke mag heilig en roem en prys! Verder ook dat ons ons
hele lewe so mag leef dat sy Naam nie gelaster word nie,
maar geprys word.
God se Naam is ook in ons lewe op die spel. Hy moet in ons,
en deur ons, geheilig word oor al sy werke en goedheid en
genade. Ons moet bid en so gaan leef dat mense nie na ons
sal kyk en wonder wie ons aanbid nie. Ons moet so leef dat
hulle God in ons kan beleef en Hóm daarvoor sal prys.
Ernest