“Gaan deur die nou poort in” – Matteus 7:13.
Jesus maak dit duidelik dat dit nie so maklik is om deur
die nou poort te kom nie, of selfs om dit te vind nie.
In Jerusalem se stadsmuur was ‘n bitter klein poort wat
hulle die naald genoem het. Jesus het glo hierdie naald-
poort bedoel. Hy het ook gesê ‘n kameel sal makliker
deur ‘n naald se oog gaan as ‘n ryk man wat in die
koninkryk van God kom. Die kameel moes eers afgelaai
word voordat hulle hom op sy knieë deur die poortjie
kon help. Dit laat ons dink aan wat Jesus nou hier sê.
Dit is nie maklik nie. Jy kom nie self deur die poort nie.
Ons weet Christus is die Poort, die nou Poort.
Ons kan elke dag die wet hou. Ons kan elke dag op
gebedstye bid. Ons kan dae of selfs weke lank vas.
Maar dit bring ons nie deur die nou poort nie.
Net Christus is die Poort. As ons Christus nie vind nie,
is daar geen ingang deur die muur na die ewige stad nie.
Dit is hoe God dit beskik het. Christus alleen.
Net Hy het ons skuld betaal en in ons plek gesterf.
Alleen deur Hom kan ons na die ewige lewe. Ware lewe.
So ‘n Poort is Jesus. Jy hoef nie verder te soek nie.
Ernest