“Aan hulle vrugte sal julle die vals profete ken.”- Matteus 7:16.
Die Christelike leer het nie by iemand begin wat baie begaafd is
en dit gaan sit en uitdink het nie. Dit het begin by ‘n onvervalste
en onmiskenbare ondervinding. Mense het eeue gelede dinge
beleef wat hulle eers nie kon verwerk nie. Hulle kon dit nooit
werklik verstaan nie, of deurgrond nie. Hulle kon ook nooit
daaroor uitgepraat raak nie. Hulle het God ontmoet!
Hulle het Jesus van aangesig tot aangesig leer ken.
Hulle het Hom verheerlik gesien. Ná hierdie ontmoeting
was hulle bereid om te sterf vir Wie hulle ontmoet het
en gesien het! Saam met Wie hulle geleef het!
Deur geslagte heen is hulle ondervindings in die gees
herhaal aan die wat dit by hulle ontvang het en dit
verder gelééf het.
Daarom sal mense wat Jesus werklik leer ken het,
mense wat God werklik dien, Hom altyd eerste stel in
hulle lewe. Mense wat hulle eie slimmighede eerste stel,
het iewers oor God gaan sit en dink en Hom nooit werklik
ontmoet nie. Hulle is uiteindelik vals profete.
Hulle kan “alles” van die Skrifte “weet”, maar hulle ken nie
die God van die Skrif nie. Hulle het ook in Jesus se tyd geleef.
Dikwels was dit hulle wat propvol kennis van die Wet was.
Hulle is deur die eeue, en ook vandag nog nie onbekend by
ons nie.
Die ware vrug van geloof is ‘n knop-in-die-keel-besef van
‘n onbegryplike liefdevolle Vader, en ‘n reddende Jesus Christus,
en ‘n Teenwoordige Heilige Gees. Die drie dimensies van die een
ware God wat ons in geen woorde of denke onder beheer kan
kry nie. Meermale wil jy met hierdie besef eenvoudig net soos
Petrus sê: Gaan weg, Here, ek is sondig!
Maar omdat Hy die Lewende God is, bly Hy! Ja, ons sal ook ons
vertwyfeling hê. Ons sal ook bergop loop soos Dawid, die man
na God se hart, huilende oor ons eie menswees...
Maar ook dit sal weer vrugte dra. Vrugte wat sal hou. Vrugte wat
ons kan uitdeel. Dikwels wil ons net met ‘n warm hart sê:
Júlle mag redeneer, maar ek wil beleef. Júlle mag betwyfel,
maar ek het lankal aanvaar.
Ek lééf uit hierdie Teenwoordigheid, Wie God is!...
met gedurige verwagting!
Ernest