“Nie elkeen wat vir my sê: “Here, Here” sal in die
koninkryk van die hemel ingaan nie” – Matteus 7:21.
Jesus sê nie elkeen wat Hom, soos ‘n ou bekende by
sy titel aanroep, sal in die koninkryk ingaan nie.

Ons kan iets verstaan van Jesus se bedoeling en gevoel
wanneer ‘n bedelaar by jou kom met allerlei lofprysings
en name, asof hy jou ken en weet van jou al “goeie” dade.
Hy begroet jou met “my meneer”, of selfs “my koning”,
en hy gaan doen presies dieselfde by die volgende persoon
as hy van jou af aan-beweeg, asof hy elkeen ken. Jy voel
eintlik ongemaklik met die lofprysings, en titels wat jy
genoem word. Dit beteken eintlik vir jou niks, want jy
weet dit word nie in waarheid en opregtheid gesê en
bedoel nie.

Jesus sê Hy word nie met “Here, Here” beïndruk deur mense
wat Hom nooit geken het nie. Dit gaan nie oor die noem van
sy Naam nie, maar oor ‘n lewe in verhouding met Hom.
Is Hy werklik jou Here? Gee jy om waarvoor en vir wie Hy
omgee? Volg jy Hom met jou lewe? Soek jy sy raad en
leiding? Bid jy opreg in sy Naam? Wys jou lewe dat jy
Hom volg? Watter woorde kom uit jou mond, omdat
jou hart vol daarvan is?

Daar kom ‘n afsnypunt waar die skyn van die werklikheid
geskei word. Jesus vra baie, maar eintlik ook nie baie nie.
Hy vra eintlik jou hele lewe vir Hom. En dit is die ware lewe
wat jý dan ontvang! Jesus vra bloot jou liefde vir Hom,
bo alles. Hy vra dat jy nou in elke aardse dag saam met Hom
loop en leef. Dit is om vir die Here as Here aan te roep,
en opreg vir Hom Here te sê... want wie anders is Here?

Ernest