Die ou Psalm 23 het gesê: “My beker loop oor.”
Die toppunt van oorvloed.
Dat God net aanhou skink en skink in my lewe,
en my beker oorloop!
God wil ons seën.
Nie skrapserig nie. Korrel vir korrel nie.
Nie met sy oog op die hoeveelheid nie.
Maar tot oorlopens toe, tot my beker oorloop!
Selfs in God se woorde: “My genade is vir jou genoeg”,
is daar oorvloed!
Genoeg van God, is oorvloed in my beker!
Ons wil massas seëninge ervaar,
voordat ons dink dat dit regtig goed gaan.
Ons wag vir ‘n verhoging, die gesogte pos,
die hoogste eerbetoon.
Ons dink seën is om op die podium te staan.
Maar seën van God lê in die gewone van elke dag.
Alles wat daagliks na ons toe kom en ons beker laat oorloop.
God se goedheid, en guns, en seën,
gaan nie net altyd saam met die groot dinge nie.
Al die klein dingetjies in ons lewe is draers daarvan!
Maar hoeveel is genoeg?
Mag ek vir meer van God se goedheid vra?
Kan ek my hartsbegeerte voor sy voete kom lê?
Ja, verseker!
Solank ek net ook weet dat ware seën die wete is:
God is hier! God seën my met sy teenwoordigheid!
Seën lê nie net in goeie omstandighede nie.
Juis in swaarkrytye raak ek dikwels meer bewus van Sy seën.
Namate ons eie bekers leeg word van onsself,
kan Hy dit voller en voller skink van Homself!
Tot oorlopenstoe vol !
Inderdaad sê Psalm 23:
My beker loop oor!
Ernest