“Dis stortreën het geval, die vloedwaters het afgekom,
winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk,
en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was
op rots” – Matteus 7:25. Ons lees ook in hierdie gedeelte
van ‘n ander huis. “Die winde het teen daardie huis gewaai
en daaraan geruk, en die huis het ingestort.” – Matteus 7:27.
Bou op die waarheid van God, sê Jesus, en jy en jou huis sal
staan. Die onvaste huis wat instort, is ‘n lewe en geloof wat
gebou is op jou eie insigte, jou rede, jou eie voorkeure en
afkeure, jou eie aannames, jou eie soort filosofie, jou eie
leefwyse... eerder as op die waarheid van God. Ons kan
dink dat so ‘n huis lank sal staan, maar wanneer die ware
storms en toetse kom, sal dit instort.
Gedurende die Franse Rewolusie het hulle in die Notre Dame
in Parys ‘n altaar vir die “Godin van die Rede” gebou, in plaas
van God se raad te soek. Hulle het toe die menslike rede begin
aanbid... en ‘n aaklige skrikbewind het losgebars waarin die
rewolusie sy eie kinders ook uiteindelik ingesluk het.
Parys het mal geraak... Bou op die waarheid van God, sê Jesus,
en jy en jou huis sal staan. Anders sal jou val groot wees.
In die Noordsee is ‘n groot vuurtoring op ‘n baie stormagtige
plek opgerig deur ‘n bekende bouer. Toe die projek klaar was
het hy op die fondament laat skryf: “Come sea! Come storm!
And test my work!” Dit is iets van die arrogansie van die mens
se eie lof. Die storms het hét gekom. Die vuurtoring is verwoes.
‘n Bedeesde bouer het dit weer opgebou en die fondament
diep in die rots gegrawe. Op die fondament het hy laat skryf:
“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat
daaraan bou...” – Psalm 127:1. Die storms het gekom.
Die vuurtoring het stewig bly staan.
Bou op die waarheid van God.
Ernest