“Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag
van God tot redding van elkeen wat glo” – Romeine 1:16.
Paulus skryf sy brief aan mense wat hy nie ken nie en graag
wil besoek, naamlik die Christene in Rome. Hy sê van die
begin af wie hy is en wens hulle reeds in die aanhef vrede toe.
Hy bedel nie om aandag te kry nie. Hy het ‘n dringende en seker
boodskap wat hy wil oordra nog voordat hy hulle besoek:
Die evangelie is ‘n krag van God tot redding.
Die misterie van God self is krag. Vertroue is krag. Geloof is krag.
Sekerheid is krag. Die waarheid is krag. Liefde is krag. Kennis,
insig en aanvoeling is krag. Morele moed en oortuiging is krag.
Geloofsoortuiging is krag. Kreatiewe denke is krag. Oorreding is
krag. Pyn en uithouvermoë is krag. Outoriteit is krag. Die Naam
van Jesus is krag.
Dit alles lê in die Goddelike krag waarmee Paulus hierdie
brief aan die Romeine skryf. Inspirasie deur die Heilige Gees,
Goddelike krag. God is die bron van dit alles. God is die bron
van krag in ons. God alleen het die krag om sy mense vir ewig
te red. En in stand te hou.
Daarom sê Paulus: “Ek skaam my nie vir die evangelie nie,
want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo.”
Dit is die evangelie, sê Paulus: die goeie boodskap dat God
die skaamte van skuld in elke mens kan verander, jou kan
verander, tot iemand wat in Goddelike krag lewe.
Daarom kan ons, soos Paulus, die wêreld vol in die oë kyk
in die Naam van Jesus Christus ons Here!
Is jy nog skaam vir die evangelie?...
Ernest