“... jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself?...”
– Romeine 2:21. Lees gerus verse 21-24.
Almal van ons wat volgelinge van Christus is word
hierby ingesluit. Daarom dat vers 23 ook sê:
“Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan
deur sy wet te oortree nie?” Dit sluit ons almal in wat die Woord
gebruik om ander mense te oordeel of te beoordeel. Ons oortree
so maklik sonder om te dink. Ons preek: Jy mag nie steel nie. Maar
steel jý nie? – vers 21. En egbreek? – vers 22. Dink mooi wat het
Jesus daaroor gesê... Hoeveel steel ons nie van die werk se tyd nie?
Of begeer iemand in ons gedagtes nie? Hoe moet ons dit hanteer
om nie ánder te oordeel nie?
Die siels-deursoekende vraag moet wees:
Hoe sou ek hierdie nood, of terugslag, of vraagstuk, probleem, of
dissipline self ervaar en opgetree het? Ons kan maklik die Wet
genadeloos preek of toepas. Soos ‘n super-Fariseër soos Paulus was...
voor sy grondige bekering in Christus. Paulus kom self in Rom. 3:10
tot die gevolgtrekking: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie
een nie...” Hoe sou ons vaar onder die vergrootglas?
Daar is ook baie sieninge oor mense in ‘n bediening van Christus:
Hulle moet aangenaam wees met almal, met almal goed klaarkom,
belangstellend na almal luister. Hulle moet gedurig in verbinding
met God wees. En as mense hierin faal, is hulle tyd verby. Húlle is
nie bedienaars nie. Hulle doen nie wat hulle leer nie. Is ons nie almal
bedienaars van die genade van God nie? Ons oordeel mense wat
ander moet leer, maar ons almal leer óók iemand. Jou ondergeskikte,
of jou kind, of wie ookal. Ons sou almal engele moes wees...
Maar God gebruik juis óns as sy verteenwoordigers.
Die eerste dissipels met al hulle foute was ook die eerste leraars.
Vol gesukkel en dwaasheid. Hoe kan ons nie met hulle identifiseer
nie... en tog het God deur hulle die boodskap gedra tot vandag toe.
Die eerste kwalifikasie is om agter Jesus aan te gaan wanneer Hy
beveel om te volg. Inderdaad het God die dwases gesoek om die
“wyses” te beskaam – 1 Kor. 1:27. Die koninkryk van God is nie
afhanklik van “volmaakte” mense nie. Die koninkryk van God is
nie afhanklik van dienaars en aanbidders se “onberispelike” lewe
en morele voortreflikhede nie.
Die groot taak en roeping is om Jesus te probeer volg en na God
te wys met ons hele lewe. Nie om ander te veroordeel en self nie
te leer nie. “...jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself?...”
Ernest