“Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle vir die sonde
dood is maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus
Jesus.” – Romeine 6:11.
Soos Christus vir die sonde dood is, is gelowiges ín Christus
óók vir die sonde dood. Let op vers 10 wat sê Christus
“het gesterwe en is eens en vir altyd vir die sonde dood.
Nou lewe Hy, en Hy lewe vir God.” Daarom sê Paulus in
vers 11 dat gelowiges in Christus moet onthou dat
“ook júlle vir die sonde dood is maar vir God lewe, omdat
julle een is met Christus.” Ons wat in Christus is, is een met
Christus, en daarom óók dood vir die sonde.
Maar, intussen doen ons sonde. Ons vertel leuens, pleeg
bedrog, begeer wat ons nie toekom nie, en word ons aandag
dikwels afgetrek deur ons eie afgode. Ons kan die lys nog
langer maak. Hoe dan nóú? Hoe kan ons dan vir die sonde
“dood” wees? Iemand het hierdie voorbeeld gebruik:
Wanneer manne groot rugby speel, sê hulle, dat hulle nie
eers bewus is van die skare nie. Hulle fokus intens op die
spel en die bal. Vir alles anders is hulle “dood”.
Vir ‘n wêreldbekende fietsryer is ook gevra hoe die skare
langs die pad hom beïnvloed? Sy antwoord was ook dat niks
van dit vir hom tel nie. Al waarop hy fokus en waarvoor hy al
sy kragte inspan is die eindstreep. Alles langs die pad is vir
hom “dood”. Net hy en sy fiets en die einddoel word een.
Net dit tel, niks anders nie. Ja, daar kom ook probleme,
soos ‘n pap wiel, of ‘n val, maar die doel oorkom alles.
Dit laat ons onwillekeurig dink aan Hebreërs 12:1-3:
“... laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding
hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder
van ons geloof. Hou Hom voor oë... Dan sal julle nie geestelik
moeg word en uitsak nie.”
Dit werk so vir Christene: Hulle word een met die doel in
Christus; een met die Gees van Christus; een met die lewe in
Christus. Dit is dikwels ‘n proses van val en seerkry, maar
weer opstaan en voortgaan. Niks bly kleef, na die val, wat nie
van Christus is nie. Dié val eenvoudig weg, want in beginsel is
die Christen in Christus daarvoor “dood”. Natuurlik kan die val
liederlike seerkry wees, en kosbare tyd verlore gaan, maar die
sonde wen nie. Wat die Christen betref, die Bose is verslaan.
Jy is ‘n nuwe mens in Christus, en niks onrein bly kleef aan
Christus nie. Ons begin in Christus die skoon lug en lewe van
God inasem. Ons lééf, in die lig van sy Teenwoordigheid.
Ons is vir die sonde “dood”.
Ernest